Polisie trek ‘bloulig-kapers’ vas

Argieffoto ter illustrasie

Twee verdagtes is noord van Pretoria in hegtenis geneem nadat hulle glo blou ligte gebruik het om ʼn motoris mee te kaap.

Volgens kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, is ʼn motoris Vrydagaand in die Mabopane-omgewing, noord van Pretoria gekaap toe hy in sy VW Polo buite ʼn vriend se huis gesit het.

“ʼn Ander voertuig met blou ligte het skielik agter sy voertuig parkeer. Drie gewapende mans het uit die voertuig geklim en hul as polisiebeamptes voorgedoen. Hulle het die motoris in hul voertuig gelaai terwyl een van die verdagtes in die motoris se voertuig geklim het.”

Volgens Masondo het die verdagtes aan die motoris gesê hulle vat sy voertuig Midrand toe. “Die verdagtes het egter met die twee voertuie na Soshanguve gery en die motoris is daar afgelaai.”

Die Tracker-opsporingstelsel in die man se motor is geaktiveer en het die polisie na ʼn huis in Mabopane gelei.

“Die gekaapte motor is in die toegesluite motorhuis gevind. Die voertuig met die blou ligte wat in die kaping gebruik is, is ook op die perseel gevind waarna twee verdagtes in hegtenis geneem is.”

Masondo het gesê die Gautengse polisie is besig met ʼn uitgebreide soektog na kapers wat hulle as polisiebeamptes voordoen en blou ligte gebruik tydens kapings.

“Ons stel tans ondersoek in om vas te stel of die twee verdagtes met ander soortgelyke voorvalle verbind kan word.”

Die inhegtenisneming van die twee mans kom net dae nadat ʼn vrou gesterf het nadat sy en haar man op die R59 in Kliprivier in Johannesburg gekaap is deur verdagtes wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Asgat ·

Ons drywer is Woensdag op die R21 waar Emperors Palace is gekaap deur twee voertuie met blou ligte in die voertuie. Hulle het hom later afgelaai en vir hom geld geggee om terug by die werk te kom…. Ons het ons bakkie in Lenasia opgespoor binne n’ kort tyd maar die twee verdagtes het in die bosse in gehardloop. Ek hoop SAPS gaan almal wat so gekaap word vra om die twee uitteken.

Scalla ·

Geen blou ligte mag gebruik word buiten die SAPD nie, nie eens die politieke narre nie, elke swart kar het n lig, sal probleem verminder.

Bloedhond ·

Goed om te weet hulle trek darm ook so nou en dan hulle eie makkers vas.

HBK ·

Wat staan jou te doen. Stop jy nie vir ‘n blou lig nie. Kan hulle op jou skiet en gaan jou rond ruk wanneer jy wel op ‘n veilige plek stop. Stop jy vir ‘n blou lig, is daar ‘n goeie kans dit is nie polisie nie. Waar hulle elkgeval op jou skiet, jou kaap of nog erger. Die posisie is benard. Dis totale anargie.

Leon ·

Vind uit wie is die polisie beamptes wat die toerusting en uniforms uit verhuur het. Dit is waar hulle die toerusting kry. Polisie huur al die toerusting uit sedert 1995. Baie insleepdienste het al polisie radios gehuur by polisiemanne wat van diens af is. Standaard praktyk in ons ou landjie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.