Polisie trek twee ‘stropers’ in lokval vas

Die motor waarin die olifanttande gevind is. (Foto: SAPD)

Twee mans wat na bewering met olifanttande en renosterhorings smokkel is vandeesweek in hegtenis geneem toe die polisie vir hulle ʼn lokval gestel het.

Brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring polisiebeamptes het die verdagtes by ’n Durbanse hotel ingewag nadat die “koper” met hulle afgespreek het om hiér te ontmoet.

Volgens Naicker het polisiebeamptes van die Punt-polisiestasie inligting ontvang oor twee mans in die besit van olifanttande waarna die polisiebeamptes kontak met die verdagtes gemaak het en hulself as voornemende kopers voorgedoen het.

Daar is toe afgespreek om mekaar Maandag buite ʼn besige hotel in die Punt-omgewing te ontmoet.

“’n Polisiebeampte is na dié plek en het versoek om die ware te sien. Die verdagtes het sonder om te huiwer die polisieman na hul voertuig geneem.

Die olifanttande waarop beslag gelê is. (Foto: SAPD)

“Die mans was stomgeslaan en het geweet dit is neusie verby toe hulle gekonfronteer word deur polisiebeamptes van die plaaslike polisie se taktiese reaksiespan asook die eenheid vir bedreigde spesies,” verduidelik Naicker.

Die verdagtes se motor is deursoek waarna daar op vier olifanttande beslag gelê is. Die tande weeg altesaam 16, 88 kg en het volgens Naicker ’n geraamde waarde van R300 000.

Die mans, onderskeidelik 35 en 56 jaar oud, is vir die besit van en handeldryf in ivoor in hegtenis geneem en het reeds vanoggend in die Durbanse landdroshof verskyn.

“KwaZulu-Natal is nie ʼn speelgrond vir misdadigers nie en dit is ʼn les wat hierdie misdadigers op die harde manier geleer het,” sê lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiehoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Capie ·

Jip, hulle is weer ” geframe” deur hulle makkers sodat hul makkers hul eie goed kon deurkry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.