Polisie verjaag groep wat Nehawu-betoging ontwrig

Betoging in Noordwes (20 Maart 2018) Foto: Nehawu, Facebook

Polisiebeamptes moes Dinsdag van skokgranate gebruik maak om ʼn groep, wat ʼn Nehawu-betoging in Noordwes ontwrig het, te verjaag.

ʼn Groep jongmense, met ANC-jeugliga-T-hemde, het stokke rondgeswaai en die perseel beset waar lede van die National Health, Education and Allied Workers Union (Nehawu) by die Noordwes-wetgewer in Mmabatho bymekaargekom het om ʼn memorandum te oorhandig waarin geëis word dat premier Supra Mahumapelo moet bedank.

Toe Nehawu nadergekom het, het die groep gedreunsing en nader aan hulle beweeg. Nehawu-leiers het vorentoe beweeg en die polisie moes ingryp en die twee groepe uit mekaar hou.

Toe die Nehawu-betogers na die Noordwes-wetgewer beweeg en die ander groep hulle weer nader, het die polisie skokgranate gebruik om die groep uit mekaar te jaag.

Persone wat toesprake by die betoging gehou het, het Mahumapelo aangesê om solank te begin pak. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy aan die hoof van korrupsie staan in die provinsie.

“Jou dae is getel,” het Solly Phetoe, adjunksekretaris van Cosatu, gesê. “Ons is nie ʼn faksie nie. Ons is hier oor kwessies wat die werkers raak.” Hy het gesê die ANC in Noordwes moet bewerings aanspreek dat Mahumapelo jongmense gemobiliseer het om geleenthede en betogings te ontwrig waar korrupsie geopper word.

Nehawu het by die Montshiwa-stadion bymekaargekom en stadig deur die strate beweeg na die setel van die provinsiale regering. Hulle wil hê Mahumapelo en die hoof van die departement van gesondheid in Noordwes, dr. Thabo Lekalakala, moet bedank oor hul vermeende betrokkenheid in korrupte aktiwiteit wat met die Gupta-familie verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper Labuschagne ·

Die polisie moet ingryp om ‘n vakbond wat deel is van die ANC se alliansievennootskap en die ANC jeugliga wat met stokke (tradisionele wapens) opgedaag het, uitmekaar te hou. Die rede het alles daarmee te doen dat Nehawu teen Noordwes premier Supra Mahumapelo betoog het en op ‘n wonderbaarlike wyse het die linkse stormtroepe van die ANC opgeruk om hul eie korrupte leier te beskerm.

Teen hierdie agtergrond van anargisme waar die regerende party homself verteer, hoop ons steeds desperaat dat ons minderheidsregte gerespekteer sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.