Polisie verloor 500 dienswapens in drie jaar

(Argieffoto: SAPD, Facebook)

Polisiebeamptes het die afgelope drie finansiële jare altesaam 500 dienswapens verloor nadat hulle toegelaat is om dié wapens huis toe te neem.

Luidens ’n verklaring deur AfriForum het Bheki Cele, minister van polisie, onlangs in reaksie op geskrewe vrae geantwoord dat 10 765 rondes ammunisie ook in dié tydperk voete gekry het terwyl beamptes nie aan diens was nie.

Die burgerregte-organisasie sê in die verklaring dit gaan vermoedelik al meer gebeur nadat die portefeuljekomitee vir polisie onlangs ’n amnestie-ooreenkoms vir private vuurwapeneienaars goedgekeur het.

“Sou die parlement dié ooreenkoms goedkeur sal tussen 450 000 en 1 miljoen vuurwapens oor ’n kort tydperk by polisiestasies ingedien moet word.”

Die organisasie meen die meerderheid van die vuurwapens gaan dié van wettige vuurwapeneienaars wees wat bloot nagelaat het om hul vuurwapenlisensies te hernu in die 90 dae tydperk wat vir dié spesifieke doel deur die Wet op die Beheer van Vuurwapens bepaal is.

“Die rede vir die argument was om te bepaal of die wettige bepalings en voorwaardes vir die hernuwing van vuurwapenlisensies korrek toegepas is. Dit blyk nou dat Cele nie burgers gaan toelaat om duidelikheid oor dié saak deur die howe te kry nie, maar dat hy eerder ’n kort pad gekies het in die vorm van dié amnestie.”

AfriForum meen dit is dus heel waarskynlik dat die polisie nie in staat gaan wees om die sowat een miljoen onwettige vuurwapens te bestuur wat tydens só ’n amnestietydperk ingedien gaan word nie, aangesien hulle nie eers hul eie vuurwapens kan bewaar nie.

“Boonop sal dié vuurwapens heel waarskynlik in kriminele hande beland,” lui die verklaring.

Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dit is duidelik dat die polisie onbekwaam is om na vuurwapens om te sien wat reeds in hul besit is. “Die SAPD het 9,5 miljoen rondes ammunisie en 4 357 vuurwapens die afgelope ses finansiële jare verloor het. Die gevolg is dat hulle – sou die amnestie in werking gestel word – eenvoudig nie met ’n bykomende 500 000 vuurwapens vertrou kan of behoort vertrou te word nie. Dis soos om wolf skaapwagter te maak,” meen Kamfer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

chrisjan ·

Die hele doel van die Minister van Polisie is om ander burgers wat vir die anc stem te bewapen deur die implimentering van die amnestie .

Ag regtig ·

Hierdie is nou baie soos die dominee wat met ander vrouens rondloop wat oor die huwelik wil preek. Die polisie verloor soveel wapens. Ongelooflik! Wat sal met my gebeur as ek net sê: ‘Jammer, ek het my vuurwapen verloor?’ Sal so diep in wees dat dit nie waar is nie. Maar ons word met allerhande dreigemente vertel hoe ons nie ‘n vuurwapen uit ons hande moet laat gaan nie. Nie in ‘n kar, reguit in ‘n kluis. Het hierdie narre hoegenaamd kluise by hulle huise? Ek dink sommige van die ‘verlore’ vuurwapens is reguit in die rowers se hande. Teen ‘n lekker betaling.

Annalize Pienaar ·

Ek wens ek kon die land verlaat.!!!!!! Niks was ooit so erg nie.

Gert van Wierdapark ·

Verloor en verkwansel kan seker maar as sinonieme in die nuwe 25 jaar oue SA gesien word. Enige iets is moontlik op die styl afdraande pad waarop die a en see die land in die afgrond in bes-tuur!!

Willie ·

In die goeie ou dae sou jy tronk toe gaan sou jy n weermag of polisie wapen verloor… vandag is dit Eish….

Muis ·

Indien ek my vuurwapen moet inhandig sonder vergoeding, koop ek maar net een van die onwettige vuurwapens, dalk nog my eie een of dalk een van die polisie se verlore vuurwapens. Ten minste sal dit dan in veilige bewaring wees en nie gebruik word om onskuldige mense te beroof of te vermoor nie!

Hennie ·

Dieselfde polisie onder leiding van Cele wat ons as burgers wil verhoed om wettige vuurwapens te besit. Sê vir jou als wat jy hoef te weet.

Faan ·

Die werklikheid is dat dit baie, baie meer is as 500……..hierdie is die haartjies op die ore van n seekoei

HPV ·

Faan, ek dink jy is reg. Inderwaarheid het hulle 500 misdadigers bewapen en genoeg ammunisie verskaf om letterlik ‘n klein oorlog te begin.
Sou jy en ek ons wapens verloor was ons aangekla en summier onbevoeg verklaar om ooit weer ‘n wapen te besit. Dit is sulke optrede wat mens siek sat en ***vol maak!

Slim ·

Hierdie ouens onderskat ons intelligensie. Of hul kan nie tel nie. Seker met 30 % geslaag.

Herman van Staden ·

Jip ek stem saam. Hulle verloor nie die wapens nie. Dit word uitgehandig….

JohanL ·

Muis is reg. Verwoes eers jou vuurwapen dat hy nie meer kan skiet nie en handig hom dan in.

Verder – alhoewel ek glo die huidige SAP nie in staat is om dit te doen nie, sou ek graag wou sien dat elke SAP wapen ballisties getoets word voor uitreiking en daardie data gestoor word. So sal dit dan maande/jare later moontlik wees om misdade potensieel te koppel aan ou SAP wapens. Maar ja, ons weet almal dit is baie gevra en dit sal nie gebeur nie.

JohanR ·

As ek my geweer in die weermag sou verloor het, was ek dadelik op die eerste trein saam net twee MP’s Bulawayo toe, en DB toe. Het wat ek net van DB gehoor het, seker gemaak ek bly aan die regte kant van die gereg. Wat gebeur met Konstabel Plod waaneer hy sy diens pistool verloor? Gaan hy dadelik DB toe? En daar val ek alweer van my stoel af soos ek lag. Dit is die ANC se Suid Afrika die my maat!!

Scalla ·

Dit is seker die wapens wat nie terug gekry is nadat dit uitgehuur was deur die lede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.