Polisie vernietig duisende vuurwapens

(Argieffoto: SA Polisie)

Polisie het Donderdag byna 25 000 vuurwapens in Vanderbijlpark, Gauteng, vernietig. Hierdie vuurwapens sluit in dié wat deur beamptes gekonfiskeer is en tydens die vorige twee amnestietyperke ingehandig is.

Volgens kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, is helfte van die 24 901 vuurwapens wat vernietig is, tydens die amnestietydperk in 2019, 2020 en vanjaar ingehandig.

Dit is egter nie bekend of al die vuurwapens wat tydens die amnestietydperke ingehandig is, Donderdag vernietig is nie.

Die vernietigde vuurwapens is wel aan Ibis-toetsing onderwerp en daar is bevind dat geen wapens aan enige misdade gekoppel is nie.

“In totaal is 3 610 gewere, 3 083 haelgewere en 17 383 handwapens en ammunisie vernietig.”

ʼn Kennisgewing is op 9 Junie in die Staatskoerant gepubliseer dat 24 910 vuurwapens vernietig sal word. Belanghebbendes wat ʼn geldige aanspraak op die betrokke vuurwapens of ammunisie gehad het kon binne 21 dae ná die publikasie van die kennisgewing vertoë aan die registrateur lewer waarom die geïdentifiseerde vuurwapens of ammunisie nie vernietig moes word nie. Polisie het vertoë met betrekking tot nege wapens ontvang en gevolglik is slegs 24 901 vuurwapens vernietig.

“Die onwettige vuurwapenhandel is nog ʼn knou toegedien met dié vuurwapens wat vernietig is. Beamptes sal voortgaan om beslag te lê op onwettige vuurwapens, aangesien onwettige vuurwapens die veiligheid van ons landsburgers in gevaar stel.”

Muridili sê burgers moet bewus wees daarvan dat die vuurwapens van geliefdes wat dood is nie soos enige ander bate hanteer kan word nie.

“ʼn Vuurwapen word aan ʼn individu uitgereik. Daarom, in geval van die dood van die eienaar, moet die gesin of eksekuteur die vuurwapen laat deaktiveer, dit aan ʼn geakkrediteerde vuurwapenhandelaar of individu verkoop of dit vrywillig aan die polisie oorhandig sodat dit vernietig kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

marius ·

Wil julle vertel dat julle 24 901 wapens balisties getoets het ? Dit is ‘n gemiddeld van 34 wapens per dag 7 dae per week en die data is verwerk ? Indien dit wel so is , is daar geen wapen wat met enige misdryf verband hou nie , so geen misdadiger het ‘n wapen ingehandig nie !

Persheks Adri ·

Ek’s jammer, maar ek glo nie die wapens is vernietig nie! Hoekom sal hulle dit vernietig as hulle geld kan maak? Dink ons is vlak in die dak pffft

Androclus ·

Hoeveel van die wapens is nie in hulle besit nie,enige iets kan van hulle verwag word.

Maalstroom ·

Is daar enige onbetwisbare bewyse van dié wapenvernietiging saam met die verklaring uitgereik?

Of is dié wapens ook in ‘n leë ertsvragmotor weggesmokkel, soos wat onwettige brandstof die land ingesmokkel word?

Die vuur was waarskynlik maar net die smokkelaars se boma.

Agge nee ·

Ek sien statistiek van hoeveel van watter wapens vernietig is, maar ek sien nie hoeveel swaar kaliber jaggewere is aan renosterstropers verkoop is nie, ook nie hoeveel handwapens aan die ‘gangs’ verkoop is nie.

Blikkies ·

Wat keer hulle om self die wapens in kriminele bedrywighede te gebruik en dan kom haal hulle jou?

JM ·

Jammer, glo nie die polisie nie. Te veel van hulle is self misdadig en is kop in een mus met misdadigers.

Persheks Adri ·

Stem JM ons almal weet geld praat enige taal. Hoekom vernietig as hulle geld kan maak?

Belinda ·

Sien is glo. Meeste van daai wapens is seker aan maatjies gegee of gaan verkoop word op die swartmark. Hoekom was dit nie op die nuus om te sien hoe dit regtig vernietig is nie? Deesdae as mens dit nie met jou eie oe sien nie, kan mens alles dan maar met n knippie sout neem……

Illa ·

Sien is glo… ek dink meeste van die 24 901 is reeds weer terug in die onwettige vuurwapen handel & die polisie se sakke effe dikker.

Pierre ·

Ja, hulle sê dit is “vernietig” Ek sal dit glo as ek dit sien.

Deon ·

Die register van die wat ingehandig is teenoor die wat vernietig is, klop daardie syfers? Miskien kan DA of iemand dit dalk audit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.