Polisie veroordeel nóg ʼn vigilante-aanval

Een van die huis wat aan die brand gesteek is. Foto: Verskaf

Die polisie het nog ʼn voorval veroordeel waarin die gemeenskap glo reg in eie hande geneem het. Dit is die vierde vigilante-aanval die afgelope week in Gauteng en Limpopo.

Die jongste voorval het Woensdagaand in Hlogotlou buite Groblersdal in Limpopo plaasgevind.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ʼn groep ontstoke inwoners het na bewering omstreeks 21:00 op ʼn verwoestingstog in die Vlakfontein-nedersetting gegaan.

“Die groep het glo oproerig geraak nadat ʼn inwoner aangemeld het dat haar ses bokke weggeraak het terwyl die vee buite die nedersetting gewei het. Die inwoners het twee verdagtes aangekeer en met verskeie voorwerpe aangerand,” het Ngoepe gesê.

Ngoepe het gesê dieselfde groep het daarna na die verdagtes se huise gegaan en vier huise aan die brand gesteek. ʼn Voertuig is ook uitgebrand voordat die polisie gereageer en tot die redding van die twee verdagtes gekom het. “Een van die verdagtes is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem waar hy steeds behandel word. Die ander verdagte is in aanhouding.”

Die openbare orde-polisie is intussen in die gebied ontplooi om die situasie te monitor.

Die polisie ondersoek sake van opsetlike saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord, openbare geweld en vier sake van brandstigting. Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie. Die skade wat die groep aangerig het, word op R200 000 beraam.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, die provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en die publiek gemaan om op te hou om reg in eie hande te neem. “As die publiek inligting het oor mense wat betrokke is by misdaad, moet hulle die polisie bel en nie hulself aan hierdie gruwelike dade skuldig maak nie,” het Ledwaba gesê.

Dié vigilante-aanval volg drie dae nadat vier verdagtes glo deur die gemeenskap van Burgersdorp buite Tzaneen in Limpopo aangekeer en aangerand is nadat die verdagtes daarvan beskuldig is dat hulle ʼn huurder by ʼn stamhoof se huis beroof het. Lees meer hier.

Saterdag is ses mans in Diepsloot in Gauteng vermoor toe hulle onder meer aan die brand gesteek is nadat hulle van diefstal in Uitbreiding 1 beskuldig is. Lees meer hier.

Verlede Donderdag is ʼn man onder meer met klippe in Centurion in Gauteng doodgeslaan. Die voorval het omstreeks 10:30 in die Itireleng-nedersetting in Laudium plaasgevind. Die man is na bewering daarvan beskuldig dat hy by verskeie plakkershutte in die omgewing ingebreek het. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wessie ·

Wat dink jy SAP. Wat verwag julle. Ons is moeg van sukkel met SAP. Bundu howe gaan terugkom. Doen jou werk of kry die resultate.

marous ·

Die regstelsel het jammerlik misluk en nou moet die gemeenskap self die balans herstel.

wesley ·

En indien daardie persone eintlik ontskuldig was? Bundu howe klink dalk maklik, maar geregtigheid is moeiliker en moet daarna streef, veral in hierdie land van ons. Dink voor jy jou bittergal braak…

Rica ·

Vier huise en ‘n voertuig is afgebrand “voordat die polisie gereageer ……. het”. En daarby staan ek en die menigte wat misdaad moet verduur.

SjN ·

Is daar nie vakatures wat van die gemeenskap lede kan vul in die sapd nie, hul weet ten minste waaroor dit gaan en op te tree.

Chris Ws ·

Die polisie het geen vertroue of aansien by die bevolking nie want hulle MONITOR net en pas nie wet en orde toe nie.Dis die feit van die saak.Hulle gaan net meer gevalle kry waar bundu geregtigheid toegepas word.

Griet ·

Wat op aarde is die “openbare orde-polisie”?? Wat is SAPD dan?

snoefie ·

sapd, die Parys boere het geen huise of karre gebrand nie. hoekom is geen van hierdie kriminele aangekeer nie?

Leahim ·

Die polisie ondersoek net alles maar voorkom niks pateties klomp die publiek vertrou hulle nie meer en om goeie rede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.