Polisie verras ‘rowers’; een doodgeskiet

Argieffoto

ʼn Rower is Maandag in die vroeë oggendure tydens ʼn inbraak by ʼn verkeerskantoor in KwaMahlanga, Mpumalanga, doodgeskiet en tien ander verdagtes is in hegtenis geneem.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het omstreeks 01:30 inligting ontvang dat ʼn inbraak by die Thembisile Hani-verkeerskantoor aan die gang is en het onmiddellik op die perseel toegeslaan.

“Met die polisie se aankoms by die kantoor het hulle ʼn groep mans gesien wat besig was om die gebou te verlaat nadat hulle na bewering pas by die kantoor ingebreek het. Hulle het ʼn kluis met ʼn slypmasjien oopforseer,” het Naidoo gesê. “Die verdagtes het op die polisiebeamptes losgebrand en die polisie het teruggeskiet. Een van die verdagtes is doodgeskiet, terwyl ʼn tweede een gewond is.”

Naidoo het gesê die polisie het nege ander verdagtes, tussen die ouderdomme van 32 en 46 jaar, in hegtenis geneem. Die gewonde verdagte is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Daar is op drie 9 mm-pistole en verskeie toerusting wat tydens die inbraak gebruik is, beslag gelê.

“Daar is ook op ʼn Toyota Conquest, ʼn Mitsubishi Colt-bakkie en VW Citi Golf beslag gelê wat vermoedelik deur die verdagtes gebruik is,” het Naidoo gesê.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, huisbraak, diefstal en opsetlike saakbeskadiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Knap gedaan…………… die resultaat van vinnige optrede na ‘n wenk ontvang is!!
:-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.