Polisie verwelkom ma se swaar vonnis

Die ma en pa tydens hul hofverskyning. Foto: Daniëlla van Heerden/eNuus

Die ma en pa tydens hul hofverskyning. Foto: Daniëlla van Heerden/eNuus

Lt.genl. Zukiswa Mbombo, polisiekommissaris van Noordwes, het die vonnisoplegging van ʼn vrou, wat erken het dat sy haar laerskoolseun verkrag en haar gestremde dogter op ‘n bed vasgedruk het sodat die kind se pa haar kon verkrag, verwelkom.

Die 37-jarige vrou het Maandag skuldig gepleit op sowat 30 aanklagte teen haar, en het erken dat sy drie van haar vier kinders tussen 2007 en 2009 by die seksdade betrek het. Die kinders was onderskeidelik sewe, nege en 15 jaar oud toe die misdade in Zeerust, Noordwes gepleeg is. Die oudste dogter (nou 19) is serebraal gestremd.

Die ouers is in 2010 in hegtenis geneem nadat die kinders se onderwysers agterdogtig geraak en die saak by die welsyn aangemeld het. Die kinders is daarna na ʼn plek van veiligheid geneem, waar hulle steeds aanbly.

Die vrou het onder andere erken dat sy seks met haar laerskoolseun gehad het om haar seksdrange te bevredig en die pa gehelp het om hul twee dogters te verkrag. Sy sê sy was self verkrag toe sy ʼn kind was.

Die vrou is Maandag 12 keer lewenslank plus 80 jaar tronkstraf gevonnis. Sy is ses keer lewenslank gevonnis vir verkragting, ses keer lewenslank vir gedwonge verkragting en 20 jaar vir vier ander aanklagte wat seksuele aanranding, gedwonge seksuele aanranding, en om kinders te dwing om na seksuele dade te kyk, insluit. Die vrou is ook gevonnis vir kindermishandeling en verwaarlosing.

Ondanks die vrou se skulderkenning en verklaring, het die pa (51) die aanklagte teen hom ontken en die egpaar se sake is van mekaar geskei. Sy saak is tot 5 September uitgestel en daar is gelas dat hy vir 30 dae lank sielkundige waarneming moet ondergaan.

Welsynswerkers beskryf die geval as een van die ergste gevalle van kindermishandeling die afgelope dekade. Die ouers se name mag nie bekendgemaak word nie om die kinders se identiteite te beskerm.

“Ons veroordeel die voorval ten sterkste, veral omdat die bose dade gepleeg is deur diegene wat veronderstel was om hul eie kinders te beskerm,” het Mbombo bygevoeg. “Die polisie sal voortgaan en alles in hul vermoë te doen om te verseker dat diegene wat misdade pleeg lang vonnisse kry.”

Lees ook:
Video: Ma tronk toe oor seksdade met haar eie kinders
Ma gevonnis na seksdade met kinders
Ma erken skokkende seksdade met haar kinders

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peter Says ·

Geen vonnis, gaan die letsels en vernedering wat die kinders op gedoen het, ooit herstel nie. Die doodstraf, sou hier baie gepas wees.

Elizabeth ·

@Peter Says – absoluut waar. Ek kry hoendervel as ek dink aan hierdie tipe van ding. Die kinders is nou in ‘n “veilige plek van bewaring” volgens ‘n ander berig. Dus, nooit sal hulle die “one-on-one” liefde, ondersteuning en respek van ‘n eie ouer ervaar nie. En geen terapie kan regmaak wat sulke amebes aan hulle aangerig het nie. Hul sal ook geen genoegdoening kry sou hul weet hul ouers is gestraf nie, al wat hulle weet is dat die mens wat jou in die lewe gebring het en jou liefde moes gee juis die is wat jou verraai het deur hierdie dinge aan hulle te doen. My hart is baie seer as ek dink hoe verward die arme kinders deur die lewe sal gaan….

Marcel ·

Iets wat ek glad nie verstaan nie, die meeste van die gevalle waar kinders gemolesteer en verwaarloos was en die mense word vasgetrek is hulle verweer dat hulle as kinders self gemolesteer was. Dit is my gevoel dat as ek as kind dit moes deurmaak sal ek mos nou alles in my vermoë doen dat as ek eendag kinders het om dit nie aan hulle te doen nie, om n beter lewe vir hulle te skep as wat ek gehad het.

pop ·

Die vreeslike hartseer is die feit dat daai kinders nie dink wat aan hulle gedoen word is verkeerd nie want hulle het daarmee groot geword. Dis wat hulle ken. Ek moes jare terug kinders begelei na n plek van veiligheid en daardie kinders het blou moord geskreeu toe hulle weg geneem is van die ouers. Dis al wat hulle ken. Hulle het geen ander verwysings raamwerk nie. Dis die verlore kinders daai, ek glo nie hulle sal ooit normale norms he nie. Vormingsjare is wat tel> Hartseer, hartseer, hartseer.

Hanlie ·

Ek wil saam met Peter says stem, maar dan dink ek dit is ook nog te “maklik”. Ek kan aan ‘n paar strawwe dink, maar ek sal dit nie op papier kan sit nie…..
Hoe kry ouers dit reg om sulke dinge aan hulle kinders te doen?

Jenny Kilian ·

Wat met die kinders gebeur het is te afskuwelik om van te praat, al wat ek wil se is dat ek saam stem die doodstraf sou beslis toepaslik gewees het. Ek hoop van harte dat die straf wat die ma gekry het in die toekoms sal geld vir alle verkragters. Hulle moet heeltemal van die samelewing verwyder word, nie net ‘n paar jaar sit en dan vrygelaat word net om dieselfde weer te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.