Polisie vier ‘oorwinning’ oor transitorowers

(Foto: @Abramjee/Twitter)

Die polisie se nasionale taakspan het nóg twee verdagtes in hegtenis geneem ná ʼn skietery tussen die polisie en beweerde transitorowers Maandagaand in Rosettenville, Johannesburg. Dit bring die totale inhegtenisnemings op tien te staan.

Agt beweerde rowers is aanvanklik Maandag doodgeskiet en agt in hegtenis geneem nadat ʼn skietgeveg tussen dié mans en die polisie uitgebreek het.

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, is die tien verdagtes wat in hegtenis geneem is glo deel van ’n sindikaat van 25 transitorowers. Daar is vroeër inligting ontvang dat die groep van plan was om ’n geldwa te beroof, waarna polisiebeamptes hulle begin dophou het en toe Maandagmiddag toegeslaan het. ʼn Polisieman is tydens die skietery dood en drie gewond.

“Verskeie polisiëringsdissiplines het onverpoosd deur die nag gewerk om die toneel te fynkam en die oorblywende verdagtes vas te trek,” sê Mathe.

Hoewel genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, vol lof is vir die taakspan se deurbraak, sê misdaadkenners en die veiligheidshoof by Action Society, Ian Cameron, dat die polisie nie noodwendig nou al ʼn oorwinning oor transitorooftogte kan vier nie.

“Daar is baie sulke sindikate wat op grondvlak opereer en dit sal van die polisie se kant af tyd vat om almal te infiltreer en stop te sit. Dit gaan nie oornag gebeur nie. Die feit dat die polisie se misdaadintelligensie swak en onderbeman is, maar dinge ook moeiliker,” sê Cameron.

“Maar die feit dat die polisie teruggeslaan het, was ʼn goeie boodskap aan rowers. Hierdie was egter slegs ʼn geïsoleerde geval. Ons sal die tendens die volgende paar maande moet dophou en kyk of daar ʼn toename in hierdie tipe polisieaksies is,” sê Cameron.

Luidens die misdaadstatistieke was daar wel tussen 2019 en 2021 ʼn afname van ongeveer 8% in die aantal transitorooftogte.

“Ons sal die volgende paar maande moet kyk of daar wel ʼn wesenlike afname is voordat ons met sekerheid kan sê dat die transito-sindikate besig is om gestuit te word.”

Die polisie het in Februarie 2020 ʼn taakspan op die been gebring om spesifiek op die bekamping van transitorooftogte te fokus. Sedertdien het dié span altesaam 202 verdagtes – wat met transitorooftog-verwante misdade verbind word – vasgetrek. Dertien van hierdie verdagtes is van die land se mees gesoekte misdadigers, wat glo betrokke was by ʼn vlaag rooftogte met verswarende omstandighede.

Tot op hede het die taakspan altesaam 178 gekaapte voertuie teruggevind. Daar is altesaam op 104 vuurwapens, waaronder 59 pistole en 48 gewere, tydens inhegtenisnemings beslag gelê.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het Dinsdag die drie polisielede wat Maandagaand beseer is in die hospitaal besoek. Een lid is intussen ontslaan en die ander ontvang steeds mediese behandeling.

Mawela het bevestig dat die toestand van die beseerde lede sedertdien verbeter het en dat almal wat geraak word in ʼn goeie luim is.

Die polisie gaan voort om die res van die verdagtes op te spoor. Enigiemand met inligting wat tot hierdie verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter9

Goed gedoen; verbeel ek my of word die % buitelanders in geweldadige misdaad ‘n al groter-wordende faktor?

Vrijburger

Welgedaan!

Diline

Nee wat hierdie sukses wat behaal is gaan GEEN verskil aan die transitorowery in die land maak nie. Hierdie spul is erger as kokkerotte, vir elke een wat jy doodslaan peul daar honderde nuwes uit.

piet

Welgedaan.

JohanR

Lekker vas geloop…..kan net dink wat gese is…..”ouens wat maak die poote hier?”