Polisie vind én verloor vuurwapens in Oos-Kaap

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

’n Onbekende aantal vuurwapens is vroeër vandeesweek gesteel tydens ’n inbraak by die polisiestasie in Peddie in die Oos-Kaap.

Die Oos-Kaapse polisie het net vandeesweek ’n gesteelde vuurwapen teruggekry wat in Desember verlede jaar by ’n ander polisiestasie gebuit is.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes van die Tyefu-polisiestasie in Peddie het Dinsdag op ’n voorval van ernstige huishoudelike geweld gereageer. Die voorval was só ernstig dat nóg polisiebeamptes later na die toneel ontbied is om lewensverlies te voorkom.

Rowers het in dié tydperk van die geleentheid gebruik gemaak om by die polisiestasie in te breek. Die polisiestasie is geplunder en ’n aantal items, waaronder vuurwapens, is gesteel.

Kinana sê daar is in dié stadium nog nie vasgestel hoeveel vuurwapens tydens die inbraak gebuit is nie.

Die presiese omstandighede rakende die voorval is nog onduidelik en ’n saak van sakeroof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die Oos-Kaapse polisie het wel intussen een van sy ander gesteelde vuurwapens en ammunisie in die omgewing van Paterson teruggekry.

Die wit bakkie en toksak waarin die gesteelde polisievuurwapen gevind is. (Foto: SAPD)

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, sê polisiebeamptes van die plaaslike polisiestasie in Paterson was Donderdag in die vroeë oggendure besig met patrollie op die N10 toe hulle ’n voertuig sonder hoofligte sien ry het. Die voertuig, ’n wit bakkie, het boonop geen registrasienommer gehad nie en die polisiebeamptes het besluit om die bakkie agterna te sit.

Die voertuig het by ’n vulstasie in die omgewing ingedraai. Twee mans het by die vulstasie uit die bakkie geklim en met ’n paadjie langs die vulstasie weggeglip. Die polisiebeamptes het hulle agtervolg maar kon hulle nie opspoor nie.

Die polisiebeamptes is toe terug na die bakkie en het die voertuig deursoek. In die bakkie het hulle ’n toksak met ’n vuurwapen, twee gelaaide magasyne en meer as 40 patrone gevind.

Govender sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die voertuig nie gesteel is nie hoewel die vuurwapen in Desember by ʼn Oos-Kaapse polisiestasie gesteel is.

Enigiemand met inligting omtrent die gesteelde vuurwapens in Peddie word versoek om die Tyefu-polisiestasie of die misdaadstopnommer by 08600 10 111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Anoniem ·

Oe lala……………..deel die wapens verniet uit wat aan die staat behoort want daar moet mos plek gemaak word vir die wapens wat hul wil onteien..

jzjz05 ·

N Polisiestasie sonder iemand binne om die stasie te beman,nie n goeie getuig skrif vir die stasie nie en hoeveel mense gaan nou lei onder die wapens wat nou in verkeerde hande beland het.???????

Heinrich ·

Klink vir my na ‘inside info’, wie hou ‘n polisiestasie dop en weet presies wanneer hy leeg gaan wees?

ES ·

Nou ja toe, Hoed, verduidelik vir ons hoekom moet wettige vuurwapeneienaars hul vuurwapens verloor – maar jou polisiemag kan nie eers vuurwapens in ‘n KLUIS veilig hou nie?

Dubbelstandaarde?

Persheks Adri ·

Hoed jou mense man! Ek hoop jy neem kennis dat júlle wapens verloor nie ons nie! Ontwapen maar jou eie mense los ons uit. Pateties verby regtig. Die kriminele is nie eers bang vir julle nie wat ‘n skande!

Oomniklaassevriend ·

SAP = een van die grootste bronne van vuurwapens en amunisie aan kriminele waaronder ook aanvalsgewere wat bykans onmoontlik is om deur die publiek besit te word.

Harley Davidson ·

Totale mors van geld en infrastruktuur, kry onafhanklike sekerheidsmaatskappy om hulle taak oor te neem, soortgelyk aan die VSA se country sherrif departement.

Deon ·

Gaan lees bietjie op oor daardie ene, dit raak ook later soos gangsters, korrupsie en al

Anel ·

Privaat sekuriteit pas al lankal alle staatsdepartemente op, polisie ingesluit.

Johanncb ·

Is ‘n polisiestasie nie veronderstel om 24/7 beman te wees nie?

lodewyk ·

Maar ons moet ons wettige vuurwapens inhandig by polisie statsies as ons lisensies verval??-Cowboy hoed jy is besig om dag by dag jou naam meer krater te maak,my wapens sal in my kluis bly tot ek die dag dood gaan,dan sal my seun dit erf!!!Nuwe lisensie of nie,daar is nie n manier dat ek my wapens inhandig terwyl ek vir my lisensies wag nie,wat op die oomblik nie eers in orde is nie by die Saps nie?

Dawie ·

Wonder wat gaan ou Cele se hier oor? Seker nogsteeds ons gelesensieerde Vuurwapen eienaars se skuld?

Cherokee ·

Vertel eers waaròm dit ingeneem is. Verduidelik hoe onskuldig jy daaraan is.

Herman L ·

Word wapens nie toegesluit nie? Of word die sleutels op die toonbank gelaat. Die bevelvoerder van daardie stasie behoort agter tralies .

Cherokee ·

Betroubare binne-inligting lui dat cele aansoek doen om die polisie se vuurwapen-lisensies terug te trek. Hul bestuurders-lisensies is blykbaar volgende, wat hulle het buitendien nie transport nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.