Die polisie in Limpopo het weer ʼn beroep op inwoners van Polokwane gedoen om hulle met inligting te help nadat ʼn staatsamptenaar vermoor en sy liggaam aan die brand gesteek is.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê twee voertuie word ook vermis sedert Marks Rambau (48), adjunkdirekteur van Limpopo se departement van vervoer, Dinsdagaand vermoor is.
Mojapelo het vroeër gesê Rambau se deels verkoolde liggaam is langs die Peter Mokaba-stadion in Polokwane afgelaai deur wat gelyk het na ʼn man en ʼn vrou wat met ʼn blou Volkswagen Polo gery het. Die polisie het op sy oorskot afgekom toe ʼn veiligheidswag van die munisipale kantoor langs die stadion, hulle van die vonds in kennis gestel het.
Beamptes is op soek na ʼn beige Jeep Wrangler met registrasienommer CJP 881 L en ʼn blou Volkswagen Polo met registrasienommer BLM 773 L.
Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn span ondersoekers saamgestel om die plaaslike polisie in Polokwane die moordenaars te help opspoor.
Beamptes ondersoek die moontlikheid dat die Polo waarmee die vermeende moordenaars gery het toe hulle Rambau se liggaam afgelaai het, aan hom behoort het.
Die polisie bied ʼn beloning van tot R50 000 aan vir enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verdagtes.
Enigeen met inligting word gevra om kapt. Philip Sekhwela by 072 717 8344 of kapt. Makokona Ntini by 073 149 0140 te bel. Mojapelo sê alle inligting sal as vertroulik hanteer word.
Kyk net hoe vinnig word belonings nou uitgeloof! As hulle maar só ‘eager’ was om ALLE moordenaars te arresteer…
Jy opper n goeie punt. Moord is moord ongeag of slagoffers en moordenaars wit, swart of enige kleur tussenin is nie.
@Zet om die gratis uniforms te dra, staatskarre te misbruik, mense aan te rand en n salaris daarvoor te kry.
Polisie vra taamlik baie hulp van publiek. Waarvoor word hulle dan betaal?
Hulle is mos so braaf en onstuitbaar laat hulle.hulle eie werk doen
Stem saam hulle is totaal afhanklik van informasie bekom deur belonings aan te bied. Nogal snaaks