Polisie vra hulp ná Strandfontein-moord

Foto: NSRI

Foto: NSRI

Die polisie het Maandag ʼn beroep op die publiek gedoen om hulle by te staan nadat ʼn visserman Sondagoggend in Strandfontein op die Valsbaai-kuslyn doodgeskiet is.

Kapt. FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig ʼn 51-jarige man is dood ná hy in die maag geskiet is. Maroela Media het vroeër berig twee hengelaars het vroeg Sondagoggend visgevang toe hulle oorval en geskiet is. “Die twee vissermanne is deur twee mans aangeval wat hulle wou beroof,” het Van Wyk gesê.

Die vier mans het baklei en die slagoffer is geskiet. Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug.

Maroela Media het vroeër berig die man se vriend het by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se reddingstasie om hulp gaan aanklop. Die span het die nooddienste van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en die polisie ontbied. Hulle is met hul seereddingsvoertuig na die toneel, omstreeks 400 meter van die reddingstasie. Paramedici het langer as ʼn uur tevergeefs gespook om hom te red.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met meer inligting word versoek om konstabel Elton Williams, die ondersoekbeampte, te skakel by 021 370 1501 of 079 894 1208.

Van Wyk het gesê die slagoffer se naam kan in die stadium nog nie bekendgemaak word nie.

Lees ook:
Strandfontein-hengelaar doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Justi ·

Dit is werklik skokkend. Nerens is mens veilig nie.

Ek self is baie lief vir hengel, of dit nou see hengel of dam hengel is, maak nie saak nie.

Ek het gereeld gaan kamp, ook dit kan mens nie meer doen nie. As jy bedag gaan hengel moet jy in n groterige groep gaan en elkeen wat verby stap met agterdog bejeen.

Dit is hartseer. Al die lekker word weg geneem deur die kriminele om ons………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.