Polisie vra hulp om PE-man se moordenaars op te spoor

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

(Argieffoto: Kent Williamson)

Die polisie in Algoapark in Port Elizabeth het lede van die publiek versoek om twee mans te help opspoor in verband met ʼn moord wat Sondagoggend in die stad plaasgevind het.

Die 52-jarige Steven Branders is omstreeks 06:30 in die Sidwell-woonbuurt deur die twee mans oorval, beroof en verskeie kere met ʼn mes gesteek.

“Branders het van ʼn winkel in Hauptstraat na Bennettestraat geloop toe die twee mans hom skielik genader het. Kringtelevisiebeeldmateriaal wys dat hy die mans wou afweer, maar hulle het hom oorrompel en op die grond vasgedruk,” sê kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie. “Hy is daarna verskeie kere gesteek.”

Een van die verdagtes het iets uit Branders se hand gegryp, vermoedelik ʼn selfoon. Hulle het daarna in ʼn wit voertuig, ʼn Mazda Midge óf ʼn Ford, gespring en gevlug. Daar was twee ander mans in die voertuig.

Branders het aan sy wonde beswyk nog voordat hy enige mediese hulp kon ontvang. “Die motief vir hierdie moord is roof,” het Naidu gesê.

Op die beeldmateriaal lyk die voertuig waarin die verdagtes gevlug het, baie oud. Dit lyk asof daar ʼn kraak in die voorruit is en die agterruit is heeltemal uit en met plastiek bedek.

“Daar het motors verby die toneel gery en van die motoriste het moontlik die aanval gesien.”

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om die ondersoekbeampte, AO Errol Kleinhans, by 083 243 4567/041 401 1061 te bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel.

ʼn Saak van moord en roof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maggies ·

Niemand wil meer help of betrokke wees nie. Wat het van ons mensdom geword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.