Polisie waarsku dié wat op aanlynadvertensies reageer

kalf-bees-plaas-landbou

Foto: Pixabay.com

Die polisie in Noordwes het mense wat op aanlynadvertensies reageer om spesifiek lewende hawe en voertuie te koop, gewaarsku om versigtig te wees ná ʼn voorval waartydens twee mans beroof is.

Die waarskuwing is spesifiek gerig aan mense wat op advertensies reageer in die omgewing van Makwassie, Leeudoringstad, Boskuil en Wolmaransstad, het kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, gesê.

Dit kom nadat ʼn man en sy broer verlede maand deur ʼn groep mans aangerand en beroof is toe hulle op ʼn advertensie gereageer het om lewende hawe te koop. Die voorval het in Boskuil naby Makwassie plaasgevind.

Myburgh het gesê die verdagtes se modus operandi is glo om potensiële kopers te ontvang en dan vir hulle die produkte of goedere te wys waarin hulle belangstel of om hul te neem na ʼn plek waar die goedere of produkte glo gehou word.

“In sommige gevalle sal die verdagtes die potensiële koper selfs ʼn toetsrit laat doen wanneer ʼn motor te koop is en dan die koper beroof van sy of haar persoonlike besittings soos selfone, beursies en kontant.”

Volgens Myburgh moet potensiële kopers waaksaam wees wanneer hulle op ʼn advertensie reageer en byvoorbeeld nie iemand na hul huis toe laat kom of die vermeende verkoper by hul huis ontmoet nie, maar eerder afspreek om in ʼn openbare plek te ontmoet soos by ʼn winkelsentrum.

Dit is ook beter om nie alleen te gaan wanneer daar op ʼn advertensie gereageer word nie en om mense te laat weet wanneer en waarheen jy gaan. “Indien jy iets koop of verkoop en vir een of ander rede ongemaklik voel tydens die transaksie is dit beter om onmiddellik daar weg te kom.”

Volgens Myburgh moet potensiële kopers ook nie groot hoeveelhede kontant by hulle hou nie. “Maak ook onmiddellik spore indien die produk of goedere waarin jy belanggestel het nie op die afgespreekte plek is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Toy pom BECA scam slagoffer ·

Ja ek was op 25 Mrt 2019 gevang met R 40 000 vir n toy pom waarvoor ek R5200 vir die hond en 19 000 plus 13 000 betaal het vir die vlugkrat asook die hondegesondheidsversekering. Die mense bly in Roodepoort en verander hulle nommers en bankbesonderhede daagliks. Asb mense moenie honde oor die internet koop nie. Speurders en polisie is op hulle spoor. Die mense is diewe. Asb wees wakker en OPPAS!!!! Hulle het my geblok en ek het n paar mense op hulle spoor. Hulle sal nie meer weet watter mense stel regtig belang en watter is besig om hulle vas te trek nie.

Toy pom BECA ·

Oppas mense. Daar is mense in roodepoort en die kaap wat as n sindikaat saamwerk om varkhonde toypoms en ander honde te verkoop en jy kry nooit die hond nie. Ek is op 25mrt gevang met R40 000. En geen hond. Hulle verander hulle besigheidsnaam , telefoonnommers en bankbesonderhede. Ek het 4 verskillende bankrekeningnommers gekry vir een hond. Hulle was eers toy pom paradise en toe verander hulle hulle naam weer en weer en dan blok hulle jou sodra dinge vir hulle warm raak.

Johanna Botha ·

Waarsku en was dan hande in onskuld. Die SAP sit met lede wat self vrot is en rekords het. Die land is onveilig omdat hulle nie hulle werk reg doen nie. Die skelms lag en koggel die SAP !

kobus ·

Daarmee stem ek saam ,die polisie is vandag sekerlik die vrotste departement in dié piesang staat.

sweis ·

Ek sal nie na sulke mense verwys as potensiële kopers nie maar na potensiële swape.

SjN ·

Geldgierige kopers, in daardie omgewing is n klomp skelms wat niks besit nie, was almal klomp diamant smokkelaars. Passop

Ysbeer ·

Die polisie weet al jare lank dat Boskuil ‘n rowers nes is, maar hulle doen niks daaraan nie. Ondersoek ook nie leidrade wat na Boskuil toe lei nie.

Francie ·

Ek soek ‘n mosaiek skuurmasjientjie en plaas dit in die Junk Mail. Vrydag is iemand wat presies het wat ek soek, sy dogter wat 9 maande gelede oorlede is, s’n gewees. Hy treur nog en wil nou daarvan ontslae raak. Sy ander dogter neem oor met reëlings.
Die goed sal met die koerier afgestuur word, ek moet eers oorbetaal deur e-wallet.
Laat hulle weet, en daarna verdwyn selfs die selfoonnommers.
‘n Bejaarde man en sy dogter. Uitgeslape, passop, hulle het geen gewete nie.
Nog ‘n waarskuwing: moenie deur e-wallet betaal nie, al verwysing wat jy het is ‘n foonnommer waarvan die sim-kaart R 5-00 werd is.

Heksie ·

Ja, ek wonder baie oor mense wat goed so adverteer op sosiale media.
As jy nie bedag gaan wees nie, gaan gevang word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.