Polisie waarsku motoreienaars oor slenter

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

“Dit is baie sleg want jy ly klaar ’n finansiële verlies nadat jou motor gesteel is en dan buit iemand wat hom as ʼn polisiebeampte voordoen, mense wat jy vertrou, jou verder uit.”

Só vertel Rudi Lubbe, ’n 43-jarige projekbestuurder van Pretoria, nadat hy byna die slagoffer geword het van ’n slenter wat eienaars van gesteelde motors teiken.

Lubbe se motor is ongeveer drie weke gelede uit ’n veilige parkeerarea met 24 uurse sekuriteit, asook sekuriteitskameras, by sy werkplek in Pretoria gesteel.

“Ek was by my werk in Menlopark toe ’n kollega my die middag bel en vra hoe ek by die werk gekom het aangesien my kar nie op sy parkeerplek staan het. Ek het hom eers nie geglo nie en gedink hy grap.” Toe Lubbe egter by sy parkeerplek kom, het slegs die handvatsel van sy motor op die grond gelê.

Beeldmateriaal het later gewys hoe twee motors, ’n Ford Fiesta en ’n silwer Polo, die oggend by sy motor gestop het waarna die skurke uitgeklim en sy motor gesteel het. “Dit het gelyk of dit ’n sindikaat kon wees,” vertel Lubbe.

Die polisie is gevolglik na die toneel ontbied waarna ’n saak van motordiefstal by die Brooklyn-polisiekantoor geopen is. Lubbe vertel dat hy geensins onraad vermoed het nie en bloot die standaard papierwerk ingevul het waarna hy ’n saaknommer ontvang het.

Hy het egter die volgende week ’n oproep ontvang van ’n persoon wat hom as ’n polisiebeampte geïdentifiseer het. Die kastige polisiebeampte het Lubbe gevra of daar enige manier was om sy gesteelde motor uit te ken aan onder andere ’n opsporingstoestel of duike aan die kar.

Steeds het Lubbe geen onraad vermoed nie, aangesien die persoon al die betrokke inligting, insluitend die korrekte saaknommer, aan hom voorgehou het.

’n Dag later het Lubbe weer ’n oproep van dieselfde nommer ontvang met die blye tyding dat sy motor in Limpopo opgespoor is. Die polisiebeampte was egter baie vaag en wou nie antwoord waar presies die motor gekry is nie. Hy het wel volgehou dat die motor privaat na Pretoria gesleep kan word – teen ’n koste van R1 500 wat slegs oor e-wallet betaalbaar is.

Toe Lubbe volhou dat hy nie dié bedrag kan betaal nie, het die kastige polisiebeampte gevra hoeveel Lubbe dan bereid sal wees om te betaal. Dit is toé dat Lubbe onraad begin vermoed. Hy het besluit om nié die geld oor te betaal nie en het na die Brooklyn-polisiestasie teruggekeer. Tot sy verbasing, het die polisiekantoor bevestig dat hulle ’n jaar of wat gelede ’n slenter van dieselfde aard beleef het.

Lubbe vertel dat hy gevolglik ’n saak van bedrog by die polisiekantoor aanhangig gemaak het. “Ek het ’n saak van bedrog geopen aangesien die inligting beslis intern uitgelek het. Hoe anders sou hulle dan al my inligting hê?”

Lubbe raai ander Pretorianers aan om hul instink te vertrou indien ’n oproep van dié aard ontvang word. “’n Mens is so gestrand sonder jou motor en so desperaat om te glo dat jou motor gevind is. Moenie uit desperaatheid reageer nie. Wees koelkop en ingelig,” het hy gesê.

Kapt. Colette Weilbach, woorvoerder van die polisie, het bevestig die SAPD is bewus van dié slenter wat motoreienaars deur middel van die polisie se hulpbronne teiken.

Weilbach sê ander slagoffers wat al só geteiken is, het wel geld oorbetaal om hul gesteelde voertuig “van ʼn ander provinsie af” terug te besorg. Nadat dié betaling gemaak is, kan die sogenaamde polisiebeampte egter nie meer opgespoor word nie en sy kontaknommer werk nie meer nie. Soms vra die sogenaamde polisiebeampte selfs dat lugtyd aan hom oorbetaal word om die slagoffer kamstig terug te bel wanneer al die reëlings afgehandel is.

Weilbach sê die polisie doen ’n beroep op gemeenskapslede om op die uitkyk te wees vir “skaamtelose maniere waarop misdadigers op slagoffers van voertuigverwante misdade aas”.

Sy sê eienaars van gesteelde motors moet self met hul persoonlike dokumente en voertuigregistrasie in die hand as bewys na die SAPD-skut gaan. Daar is geen betalings ter sprake vir ‘n eienaar om ‘n gesteelde voertuig terug te eis nie.

Eienaars kan selfs ’n versekeringsmaatskappy aanstel om die motor namens die eienaar terug te eis indien daar enige skade aan die voertuig is.

Meld enige verdagte persone, voertuie (veral voertuie sonder nommerplate) of omstandighede onmiddellik aan deur Stop Misdaad by 0800 10111te skakel of ‘n SMS na 32211 te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lientjie ·

Soos Mike Bolhuis sê : HOE STUPID KAN JY WEES!!!!!!!!! Nog nooit betaal jy die polisie as hulle jou voertuig terug gekry het nie.

zoom zoom ·

Jy kan niemand meet vertrou nie wat nog van sekere polisie lede.

honourable member ·

Dis nou maar hoe hierdie land verval het in bedrog. Om elke hoek en draai is daar iemand wat wil geld maak. Dis nou alledaags en niemand sien meer iets verkeerd daarmee nie.

willem Botha ·

Dit is hoe ek die huidige polisie in suid afrika beleef en sien ,n mors van belasting geld.

Hoe nou....... ·

Nee julle…..waar kom julle nou vandaan. n Mens kry deesdae ere klere in bedrog?

Bella ·

Dit het ook met my man gebeur, nogal ‘n Kaptein vanaf Limpopo – gelukkig is hy slimmer as 10. Ongelukkig is sy voertuig nou nog soek.

Sumi Naude ·

Selfde het met my man gebeur, ek het alles op bandopname as julle dit moontlik wil hê.
Dit was Captian Mabusa.

ne ·

Die hele land is VROT. Veral die mense wat jy veronderstel is om te vertrou!

Dries ·

Wat gaan die mense nog uitdink??????????????????????????????

Candice ·

Selfde het met my broer gebeur. Dit gebeur orals, nie net in Pretoria nie.

Piet le Rouc ·

Ja, misdaad skuil om elke hoek,daarmee stem ek100%, maar kom ons gee ten minste die SAPD lede, wat nog trots is op hul unievorm en ken- teken krediet. Daar is nog baie van hulle ook, dwars oor alle velkleure. Ons noem dan liewer die ander sommer reguit ‘ die krimeneel wat n unievorm aan het of dra.
Dankie aan die goeie en getroue SAPD en G P F lede wat trots het op hul werk.
Dankie getroue dames en here wat die publiek dien.

Stephan ·

Hahaha, Presies die selfde het met my ook gebeur, My bakkie, wat nou nog weg is, was somer al 2 dae daar na trug gekry en dit was al kla ‘n teken van it’s is nie reg nie, wa kry die SAPS so vinnig ‘n kar trug, En toe begin die kamstige SAPS lid praat van al die goed wat in die kar was en net ek en die SAPS verklaring het geweet wat in die bakkie was, en die ou het presies geweet wat da in was, En ook die nommer wat hy op gebel het was nie die nom wat ek v SAPS gegee het nie dit was ook v my snaaks. En hy kon my nie sê wat my saak nom was, want da was nog net ‘n reference nom gewees of v my se wa die kar was dat ek my eie tou trok kon stuur nie, En hy het gesê my kar was gebruik in ‘n roof, en in so geval moet die voertuig eers na die SAPS 13 toe gaan. En dis wat my laat begin agter kom het iets is ni reg en toe begin ek net klomp goed op maak van krap merke wat op my kar is en hy se ja hy sien die merke, en toe weet ek die is n scam, en my voertuig was nog nie eers op die system gelaai ook nie. My harts was seer want ek was amper bly gewees en maar nou ja

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.