Polisie waarsku oor kitsbank- en aanlynslenters

Argieffoto: SAPD

Die polisie het die publiek gewaarsku om waaksaam te wees nadat verskeie bedrogslenters die rondte begin doen het.

Kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het gesê ʼn aantal bedrogsake is die afgelope tyd veral in Howick en die omliggende gebiede aangemeld waar kriminele hul slagoffers nader terwyl die slagoffers geld by ʼn kitsbank trek.

“Terwyl die slagoffer se aandag afgetrek word en hy of sy verward is, sal die verdagte die bankkaart vinnig omruil en na ʼn ander kitsbank gaan om die slagoffer se kontant te onttrek.”

Mbele het gesê in nog ʼn slenter word slagoffers geteiken wat ware op die internet op advertensiewebwerwe of in koerante koop.

“As die slagoffer die verkoper bel word daar aan die slagoffer bankbesonderhede gegee om ʼn deposito in te betaal. Sodra die geld inbetaal is, word die koper weer versoek om geld in te betaal om die items te laat vervoer. Sodra die geld inbetaal is sal die verdagtes hul selfone afskakel en deaktiveer.”

Mbele het ʼn beroep op die publiek gedoen om uiters versigtig te wees wanneer hulle geld by ʼn kitsbank onttrek of iets op die internet koop.

Enigiemand met inligting oor verdagtes wat betrokke is by dié soort slenters, word versoek om hul plaaslike polisiestasie of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cor ·

An nie glo daar is nog mense wat vir dit val nie. As ek geld wil trek en n sogenaamde sekuriteit of n mens staan naby vertel ek hom om kompas te lees en rigting te kry indien hulle nie wil skuif kry ek rigting. So ook met die koop van ietems op die web

Sputnik ·

Wees veral versigtig wanneer die prys van ‘n item té goed klink om waar te wees en daar dan ‘n deposito versoek word om die item “vir jou te reserveer omdat daar so baie belangstelling is” – ‘n ou slenter. Sulke skurke skroom nie om selfs ‘n vals adres op te gee nie, net om nog meer geloofwaardig te probeer klink.

Pip ·

En ek moet my hele ‘pedigree’ gee om geRICA te wees sodat elke telebemarker my kan pla,maar die ouens het 1 simkaart na die ander wat nie opgespoor kan word nie.

Alida ·

Ai SAPD waarsku ons teen goed wat ons nie weet nie. Hierdie tricks ken ons al jare.

marous ·

Berig moet lees ” Publiek waarsku polisie al jare lank oor kitsbank en aanlyn slenters”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.