Polisie waarsku oor slenter wat huisrowers gebruik

polisie-huisroof-crime

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie het ʼn hernude beroep op die publiek gedoen om versigtig te wees vir ʼn slenter wat rowers gebruik om toegang tot huise te verkry.

Konst. Peter Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder van die Vrystaat, het gesê rowers besoek huise en doen hulle voor as elektrisiëns om toegang tot die eiendom te verkry.

“Minstens twee huise is onlangs in twee afsonderlike voorvalle in die Vrystaat só beroof,” het Kareli gesê.

Hy het gesê die eerste voorval het op 23 Mei omstreeks 11:14 in Bloemside in Heidedal plaasgevind. “Drie mans het toegang tot die huis verkry deur hulself as elektrisiëns voor te doen wat beweer het hulle moet aan ʼn elektrisiteitsboks werk. Toe hulle toegang tot die perseel gekry het, het hulle vuurwapens uitgepluk en op geld aangedring. Hulle het die slagoffer van kontant en selfone beroof.”

Kareli het gesê die slagoffer het die polisie van die voorval ingelig en die verdagtes is kort daarna in Pholapark in Mangaung in hegtenis geneem. Die verdagtes moet binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof.

In die tweede voorval, op 24 Mei in Parys, het vyf mans omstreeks 10:00 by ʼn huis in die dorp opgedaag. “Die slagoffer beweer die mans het glimbaadjies aangehad en gemaak of hulle elektrisiëns is. Die huishulp het die deur vir hulle oopgemaak, waarna hulle vuurwapens op haar gerig en haar hande met kabelbinders vasgebind het.”

Die mans het die huis geplunder en onder meer met ʼn .38-rewolwer, juwele en klere gevlug. Die verdagtes is steeds soek. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof met verswarende omstandighede.

“Ons versoek alle huiseienaars om waaksaam te wees en ook om hul werkers in kennis te stel om geensins vreemdelinge op hul persele toe te laat sonder hul toestemming nie.”

Kareli het gesê die “elektrisiëns” het soms nagemaakte briefhoofde van maatskappye wat hulle by hulle dra, so mense moet ekstra waaksaam wees en dadelik die polisie in kennis stel as iets verdags opgemerk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

zeno ·

Wie laat nog deesdae `n vreemdeling in jou huis inkom? Enige beroep,hy kan buite bly, vertrou niemand nie, nie eens die SAPD nie.

marous ·

As die polisie hul werk behoorlik doen en patroleer soos dit behoort te wees dan sal goed nie gebeur nie. Daar is GEEN verskoning hoekom hulle dit nie te voet dag en nag kan doen nie. Misdaad word deur voorkoming bestry , nie deur ondersoeke na die tyd en regstelsels wat geen afskrikking het nie. As die misdaadsyfer vereis dat daar twee polisiebeamptes vir elke burger van die land aangestel moet word , dan moet dit geskied.

CHRISTA ·

Ek wil net weet hoe die polisie die skuldiges in ‘n groot stad soos Bloemfontein so gou vang, maar in ‘n BAIE kleiner dorp soos Parys is hulle na amper ‘n week steeds soek!!!

cor ·

Daar kom net mense in by my hek wat ek ken, as dit kwansuis eksdom mense is moet hy maar verby hou want ek het nie n fout rapporteer nie. Daar is kameras op die hek en ek kan sien wie dit is as ek nie wil oopmaak nie kan n poliesman ook maar verby hou of as hy kans sienvir die huis baas se hond is hy welkom. Maak n afspraak se wie jy is en wat is die doel van jou besoek en ak sal besluit of jy welkom is.. Ek hou in elkgeval my eie plek instand.

Meraai ·

Ons moet net onthou om goeie ou “savvy” te gebruik. Ons het mense in die dorp gehad wat goud opkoop. Stukkende juwele- die lot. Alles skyn om net te sien wat jy in jou huis het en dan later toe te slaan. My werksmense het streng opdrag om niemand toe te laat, tensy ek hulle daarvan verwittig het nie, ‘n Mens sou graag wou glo dat die wêreld nie net boos is nie, maar ongelukkig moet ons maar wakker slaap teen slinkse skelms!

Elizabeth ·

My pa se altyd: “As jy wil dom wees, moet jy sukkel”…

Zuquina ·

Ek het al dikvellig geword as vrou. Baie keer kom skree iemand by die hek “mevrou, mevrou” vir allerande redes asook om neute te kom optel of so. Ek maak net my stem dik en jaag weg, of dit ‘n kind is of nie. Ek vertrou NIEMAND! Sal eerder in die moeilikheid by die Munisipaliteit kom en so uitvind dat die “persone” wel van hul personeel is, as om sommer net in te laat. Oefen daai “dik stem”, jy sal verbaas wees hoe dit jou bemagtig.

not in wonderland ·

Eet verlede week by restaurant op die stoep. Dit plek is taamlik stil en dit is in ‘n straat in ‘n kompleks van winkels. Daar staan ‘n mannetjie doelloos voor ons. Ek het die kelnerin laat navraag doen oor sy doen en late, hy verdwyn toe. Mens weet nooit.

foxi ·

Al is dit die land se nr 1 sal hy nie toegang kry tot my perseel nie. Finish and klaar!

A. Mac ·

As iemand by jou hek roep, vat ‘n kamera saam hek toe en maak of jy hom afneem. Hulle maak vinnige spore. En as my hond saamstap hek toe, veral as ek hom aan die halter het, dan loop hulle ook vinnig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.