Polisie waarsku oor toename in kapings in Noordwes

Argieffoto

Die polisie in Noordwes het motoriste gemaan om paraat te wees ná motorkapings in die provinsie toegeneem het.

“Die polisie maan motoriste om versigtig te wees wanneer hulle ry of langs die pad stilhou of wanneer ander motoriste hulle beveel om stil te hou, aangesien hulle moontlik kapers kan wees,” het kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie, gesê. “In sommige voorvalle, veral in Mahikeng, is niksvermoedende motoriste voorgekeer, van hul besittings beroof en hul voertuie gekaap deur persone wat hulself as verkeersbeamptes of polisiebeamptes voorgedoen het.”

ʼn 29-jarige man is in Augustus deur twee mans voorgekeer wat in ʼn Ford Bantam-bakkie gery het en gemaak het of hulle padaanwysings soek. Hulle het skielik ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en sy motorsleutels geëis. Die verdagtes het daarna met die man se Nissan Navara weggery.

In ʼn onverwante voorval in Augustus het ʼn 27-jarige motoris tussen Letlhabile en Brits gery toe sy stilgehou het om ʼn pap band om te ruil. ʼn Onbekende voertuig het langs haar stilgehou en die twee mans het aangebied om haar te help. Ná hulle die band vervang het, het hulle die vrou geklap, haar persoonlike besittings, insluitend ʼn selfoon, gesteel en met haar Volkswagen Polo weggery.

In nog ʼn voorval is ʼn 46-jarige man op 5 September op die Derby-Rustenburg-pad gekaap. Die kapers het met sy Volkswagen Amarok weggery. “Die man het vermoedelik met sy voertuig langs die pad stilgehou om homself te verlig, toe twee verdagtes, wat gemaak het of hulle padaanwysings soek, hom genader het. Hulle het die man aangerand, hom gedwing om agter in sy voertuig te klim en met hom weggery. Die slagoffer is later naby Randfontein afgelaai en die verdagtes het met sy voertuig gevlug.”

Tselanyane het gesê die polisie neem ook met kommer kennis dat sommige motoriste, veral in Brits, hulself aan dwarsboming van die gereg skuldig maak deur verkeerde tonele aan die polisie uit te wys, in plaas van die werklike misdaadtonele. Hy versoek motoriste om bedagsaam te wees en verdagte persone of voertuie by die naaste polisiestasie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Compensation ·

Dit is nie kaping nie, dit is “expropriation without compensation”. Die wet verander dan kry ons die tendens. As die polisie van die kapings in die areas weet , ipv om ons te waarsku en as hulle weet waar die spesifieke areas is, moet hulle daar aandag gee. Hulle observeer seker.

Opistophthalmus ·

Obserweer help nie. Enige een kan kyk, sien, obserweer. My vraag is wat gaan daaraan gedoen word, want blykbaar is streng wetstoepassing NIE ‘n opsie nie!!

KrokodilBotha ·

Die ou met die Amarok , kan ten minste iets , anders nou kry.

SjN ·

As hul bewus is van die probleme, hoekom tree hul nie op nie, monitor te veel en doen te min.

Erica Roos ·

Ek woon in Noordwes om presies te wees Rustenburg en dis vir my net so heeltemal verkeerd dat ons gewaarsku moet word hoekom doen die SAPS nie iets daaromtrent, meer sigbare polisie, patrollie ry in die hotspots, dis net soos die borde wat opgesit word vir die potholes, my vrek maak die goed reg, vang die kapers, waar is die polisie se informante, nee dis heeltemal onaanvaarbaar dat ons ransom gehou word in ons eie huise en dorpe, maak plan om dit te bekamp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.