Polisie waarsku oor ‘vakante poste’

Foto: SAPD, Facebook

Die polisie in Uitenhage in die Oos-Kaap het Saterdag inwoners van dié provinsie gewaarsku teen ʼn slenter waar bedrieërs glo aan inwoners ʼn werksaanbod by ʼn polisiestasie maak waarna hulle hul geld steel.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, sê inwoners moenie naïef wees wanneer hulle op werksaanbiedinge in koerante, telefonies of via sosiale media reageer nie.

Volgens haar is die polisie bewus van talle voorvalle waar ʼn sogenaamde polisiebeampte onskuldige inwoners met ʼn werksaanbod gekontak het.

“Die sogenaamde polisiebeampte sê dan vir die slagoffers hulle kan in aanmerking kom vir ʼn pos by die Uitenhage-polisie as hulle tussen die ouderdom 18 en 35 is. Die ‘polisieman’ sal dan ʼn onderhoud met die slagoffers reël en ook eis dat hulle R2 500 aan hom betaal om te verseker dat die vakante pos aan hulle toegeken sal word,” sê sy.

Kol. André Swart, stasiebevelvoerder vir Uitenhage, het dié vakante poste as onwaar beskryf.

Hy sê voornemende polisiebeamptes word altyd versoek om skriftelik aansoek te doen waarna die proses deur die menslikehulpbronne-departement gaan. ʼn Aansoekvorm vir ʼn vakante pos is volgens hom boonop net by die werwingskantoor beskikbaar.

“Enigeen wat hierdie soort kennisgewing vir ʼn vakature ontvang het, moet dit ignoreer en dit as bedrog beskou. Aansoekvorms is gratis en geld word onder geen omstandighede aangevra nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koert ·

Dit was n trots om n polisie beampte te wees nou is dit n bespotting om een te wees en jy word gebrandmerk as skelm en korrup vir goeie redes natuurlik

R ·

Ai, ons landsburgers is swak ingelig. Kan nie dink dat mens ooit moet betaal om aansoek te doen vir werk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.