Polisie waarsku oor verspreiding van fopnuus

sosiale-media

Foto: Childrensministryonline.com

Die polisie het ʼn verklaring uitgereik om sy kommer uit te spreek oor die aantal vals nuusberigte wat op sosiale media versprei word.

Genl.maj. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het spesifiek melding gemaak van plasings oor beweerde vermiste en ontvoerde meisies en vroue.

“Sosiale media is van hulp vir die polisie en die gemeenskap. Die verspreiding van vals inligting en berigte wat deesdae baie gebeur, saai egter nie net paniek onder gemeenskappe nie, maar is ook ‘n vermorsing van die polisie se hulpbronne,” het De Beer gesê.

Op 30 Mei het daar ʼn plasing oor die beweerde ontvoering van ʼn meisie uit Naledi in Soweto die ronde op sosiale media begin doen. “Die beweerde ontvoering is glo uitgevoer deur persone in ʼn Quantum-bussie en die registrasienommer was ook ingesluit,” het de Beer gesê.

Die polisie het onmiddellik ondersoek ingestel en die eienaar van die Quantum opgespoor. “Die eienaar kon bewys die voertuig was geparkeer en het nie rondbeweeg ten tyde van die ‘voorval’ nie. Toe die persoon wat die boodskap begin rondstuur het opgespoor is, kon sy nie haar bewering staaf nie,” het De Beer gesê.

De Beer het benadruk dat die polisie op sosialemediaplatforms met gemeenskappe kommunikeer en sodoende hul insae in sekere sake ontvang, en dat hulle die gemeenskap nie in isolasie wil dien en beskerm nie. “Plasings wat met kwade bedoelings geplaas word, om wraak te neem, aandag te trek of ʼn minnaar jaloers te maak kan egter verreikende gevolge hê en die polisie se hulpbronne mors,” het De Beer gesê.

De Beer noem as voorbeeld die gewelddadige betogings wat Maandagaand in KwaMashu in KwaZulu-Natal begin het. “Dit het alles begin oor bewerings op sosiale media rakende die handel in menslike liggaamsdele en daar is ook mense geïdentifiseer,” het De Beer verduidelik.

“Dit het gelei tot gewelddadige betogings en plundering waartydens twee persone geskiet is. Een van daardie persone is dood. Daar is ook op die polisie geskiet wat probeer het om die situasie te normaliseer. Dis ʼn voorbeeld van hoe die roekelose gebruik van sosiale media selfs tot lewensverlies kan lei.”

Volgens Khomotso Phahlane, waarnemende polisiehoof, word die polisie weerhou om hul pligte uit te voer omdat hul hulpbronne gebruik word om vals nuus te ondersoek. “Net soos daar teen mense wat vals kriminele klagte lê opgetree word, sal daar ook afgereken word met diegene wat vals nuus versprei en sodoende polisiehulpbronne mors, of as die ‘nuus’ tot misdaad lei,” het Phahlane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Meraai ·

Ek wou ook al DIE HORRIES kry oor van die boodskappe wat die rondtes doen. Van ‘n virus wat jou Foon van die Pous se danspassies kry, tot mense wat ontvoer is en die onmoontlikste modi operandi van skelms. Wie het tyd vir sulke nonsies uitdink?!

Pendoring ·

Net siek mense wat genot daaruit put om vrees, paniek en angs te saai. Dit gaan al so erg dat jy niks kan glo alvorens jy dit nie self op twee of meer plekke bevestig het nie.

janneman ·

Die uiteindelike doel van fopnuus is om sosiale media gekniehalter te kry….sodat geen nuus meer beskikbaar gaan wees nie. Dit is belangrik om die oorsprong op te spoor en daai mense te vervolg, sodat daar nie regverdiging kan wees om sosiale media te snoer nie.

Magda ·

En dan kry jy die die met die gewillige vingers wat alles net share.

Cherokee ·

Wat ‘n goeie voorbeeld is die wolhaarstorie wat destyds versprei is deur ‘n politieke party en medewerkers. Die fopnuus wat vertel het van ‘n ‘nag van lang messe’. Oor en oor vertel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.