Polisie waarsku: Só slaan kapers toe

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het motoriste en vragmotorbestuurders Woensdag gewaarsku om bedag te wees op kapers wat hulle voordoen as polisielede om bestuurders sodoende in ʼn lokval te lei.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, sê dié waarskuwing kom nadat ʼn vragmotorbestuurder Dinsdag op die N2 naby Humansdorp in die Oos-Kaap gekaap is.

Nkohli sê dié man was glo deur ʼn vrou van die pad af getrek wat ʼn polisiebaadjie gedra het. Volgens die man het die vrou voorgegee asof sy ʼn inspeksie op die vragmotor wou uitvoer, waarna twee mans uit ʼn motor, ʼn swart Volkswagen Polo, langs die pad gespring het en die bestuurder met ʼn vuurwapen in die geparkeerde motor ingedwing het.

Volgens die man se verklaring het een van die verdagtes toe in die vragmotor gespring en weggery waarna die tweede verdagte en die vrou die vragmotor in die Volkswagen agtervolg het.

“Ná ʼn kort ent het die Volkswagen langs die pad stilgehou en is die slagoffer toegelaat om uit die motor te klim en weg te loop,” sê Nkohli.

Die verlate vragmotor is later deur ʼn opsporingsmaatskappy naby Palmietvlei Bridge in die Wes-Kaap opgespoor. Sommige van die goedere wat vervoer is, soos babadoeke, rys en pasta, is in die voorval gesteel.

“ʼn Saak van kaping is geopen en die drie verdagtes is steeds op vrye voet. Enigeen met meer inligting wat die polisie kan help om die verdagtes vas te trek, kan die misdaadnoodlyn bel by 08600 10111,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tina Du Toit ·

Stop jy, val die skurke jou aan, stop jy nie sluit die polisie jou toe. Waar los dit ons??. Ry ons of stop ons????

Penellope Jones ·

Beteken dit dan dat ons van nou af aan alle polisiemotors en -polisie moet “ignoreer” vanwee hul onderduimse en skelm streke?
Waar gaan dit mens bring?

FM ·

Iemand van die polisie moet asb vir ons raad gee wat ons in bogenoemde geval moet doen. Die versoek het betrekking op n regte,egte polisieman. Ek soek nie n hijackerpolisieman se advies nie. Dankie.

Hendrik ·

Weereens ‘n klomp gekke. Die area moet net goed gepatroleer word. Ek vra gereeld die vraag : Is jy moeg, regtig moeg hard gewerk as jy by die huis kom?

Mary Sadler ·

So ver ek weet hoef jy nie stil te hou tensy dit ‘n volledige padblokkade is nie, maar ry na die naaste polisiekantoor en meld dit aan. Daar kan hulle dan ‘n ondersoek doen as dit nodig is.

Telemundo ·

Nou hoe sal ons weet? Vroeer die jaar is ‘n jong man trompop doodgeskiet deur ‘n REAL polisieman want hulle het beweer hy het probeer wegkom .. ry ek weg van iemand wat hom voorgee dat hy ‘n polisieman is kry ek ‘n koeel deur die rug of kop … PLAAS die polisie ‘n lokval stel en hierdie mense vang .. of werk van die polisiemanne saam?

Dirk01 ·

Hoeveel mense is so al onskuldig dood geskiet nie……..dit is n ernstige bekommernis

Basjan ·

Jy sal duidelik sien as dit ‘n regte padblokkade is. Indien jy onseker is, (so het ek iewers gelees), moet jy jou venster afdraai, wys dat jy stadig gaan aanry, en dan ry jy tot die naaste garage of ander veilige plek. Bogenoemde sal seker net werk as dit REGTE polisie is. Probleem egter is dat die valse polisie jou dalk kan aanval as jy aanhou ry. Ai tog, bly eintlik moeilik.

Blommie ·

Ek sou ook ‘n regte antwoord wil hê. Ek ry gereeld vrou Alleen in die dag selfs op die hoof paaie soos N3 ens.

Nita ·

Hier moet nou baie streng wetgewing kom. Enige iemand wat hom wederegtelik as n poliesman voordoen moet vinnig verhoor word en ten minste 15 jaar tronkstraf opgele word.

Cherokee ·

Ek het paar jaar gelede tydens ‘n nagrit tussen Durban en Johannesburg sowat middel Van Reenen/Alberton iets gesien glinster in die lang gras tussen die twee hoofweë. Ingedagte merk ek iemand wat hurkend wegkruip met ‘n weerkaats-baadjie. Hy het ‘n glinsterbaadjie aangehad en my hoofligte het sy gesig verlig alhoewel hy weggekruip het.

Ingedagte dink ek by myself dat daar ‘n lokval deur die polisie is en vergeet daarvan en mymer voort met wat my gedagtes besig gehou het. My gedagtes het weer heel weggedwaal op ander weë en miskien ‘n kwartier later en vele kilometers daarvandaan roep ek dit terug met die besef daar was geen kar aan enige kant van die pad nie. Geen voertuig binne kilometers van daar.

Daardie oomblik het ek besef dit was ‘n skaker maar ek kon nie eens naastenby terugroep hoe ver terug dit was en waar presies dit was nie. Sou dit dus nie sinvol kon rapporteer nie en het dit daar gelaat met die hoop dat almal heelhuids daar verby sal ry.

Ampie Kemp ·

Mense, ek verstaan dat dit n ernstige bekommernis veroorsaak. Veral as n vrou alleen ry, alhoewel die misdadigers hulle nie laat afskrik wie hulle teiken is nie. N amptelike voertuig moet uitkenbaar wees, soos n gemerkte voertuig met stickers op. Ek stel voor dat as dit n ongemerkte voertuig is en jy het nie sekerheid oor die voertuig nie, om aan te hou ry na jou naaste polisie stasie. Jy kan selfs jou naaste polisie stasie bel en aan hulle rapporteer, dat n verdagte voertuig jou wil stop en dat jy oppad is na die polisie stasie. Verkry n Voorvalle boek (VB)/ Occurence book (OB)verwysings nommer, om jou self te beskerm. Ek het ook al gesien dat die vragmotors, n plakker agter op aan gebring het, wat aandui dat die bestuurder nie sal stop nie en dat hy na die naaste polisie stasie sal ry. Hou ook in gedagte, dat as jy deur enige polisie -of-verkkers beampte gestop word, dat dit jou reg is om te vra vir sy aanstellings sertifikaat , waaop n foto is aan jou moet toon, om hom self te identifiseer. Hoop my raad, sal sekere van julle onduidelikhede uit die weg ruim.

Janosh ·

Die probleem is Ampie, as jy gestop het, is jy klaar ‘n slagoffer.

Theresa ·

Wat eintlik moet gebeur is dat hierdie land se geregsdienaars gekeur moet wees en eerbaar moet wees. Indien ‘n motoris in elk geval nie iets oortree het nie, behoort mens nie eers gestop te word nie. Beslis nie in die aand nie. Padreëls moet altyd en oral nagekom word – ook deur alle padverbruikers. Kriminele moet streng vasgevat word en daar moet ander bordjies verskyn: NIE beware for your own safety NIE. eerder in al 11 tale: NO CRIME ALLOWED. Criminals beware that zero crime is tolerated.
Dan kan mens weer begin asemhaal.
(Droom ek van kiewieteiers in London?)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.