Polisie waarsku teen aanlyn slenters

’n Man is by die sewende verdieping van ’n woonstelblok in Sunnyside afgestamp nadat hy op ’n advertensie vir ’n kamera te koop gereageer het. Foto: Morné van Rooyen

Die polisie waarsku mense wat op aanlyn advertensies reageer om deurgaans versigtig te wees en elke aanbod met agterdog te bejeën.

Kapt. Daniel Mavimbela, woordvoerder van die Sunnyside-polisiekantoor, sê ʼn 37-jarige man is Saterdag in hegtenis geneem in verband met die dood van ʼn man wat na bewering by die sewende verdieping van ʼn woonstelblok afgestamp is.

Dit was kort nadat die oorledene by die woonstel opgedaag het om ʼn kamera te koop wat aanlyn geadverteer is, sê Mavimbela.

Volgens die polisie slaan internetbedrieërs toe op mense wat items wil koop, soos juweliersware, elektroniese toerusting, waaronder kameras en selfone, asook voertuie en eiendom.

Nagenoeg twee weke gelede is ʼn man, wat ʼn voertuig te koop geadverteer het, se voertuig deur gewapende boosdoeners gekaap pas nadat hy ʼn “voornemende koper” kans gegee het om dit te toetsbestuur. Die twee mans het mekaar blykbaar ontmoet in Menlyn, in die ooste van Pretoria.

Maar terwyl hulle deur Sunnyside gery het, vertel Mavimbela, het ʼn medepligtige hom by die kamtige koper aangesluit en dié toe gehelp om die voertuig te kaap. Die gesteelde ryding is nog nie opgespoor nie.

Mavimbela sê voornemende huiskopers is ook nie teen slenters bestand nie. Hy vertel ʼn man en vrou is onlangs sewe jaar tronkstraf opgelê in die Pretoriase handelshof nadat hulle saamgesweer het om etlike slagoffers uit duisende rande te bedrieg.

Die twee het die slagoffers oorreed om geld te betaal om hul droom van ʼn eie woonplek te bewaarheid, maar daarvan het in elk geval dadels gekom.

Hy waarsku internetkopers om agterdogtig te wees oor elke advertensie van ʼn onbekende aanlyn handelaar. “Ondanks die sukses wat die polisie reeds behaal het om internetsindikate aan die kaak te stel, moet lede van die publiek deurgaans waaksaam wees.”

Mense wat vermoed webadvertensies kan slenters wees of wat die slagoffer van ʼn aanlyn bedrogspul is, kan Stop Misdaad by 0860 010 111 bel of ʼn SMS stuur na die Misdaadlyn by 32211.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

HPV ·

Julle kan mense waarsku tot julle blou in die gesig is, maar mense sal steeds met een of ander slenter gevang word… tragies maar waar…

willem heitlager ·

agree everywhere in the world wij waarschuwen de jeugd hier ook zijn te goed gelovig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.