Polisie waarsku teen aanlyn-vlerksleep

Argieffoto

Die polisie het Donderdag in ʼn verklaring die publiek gewaarsku teen misdadigers wat aanlyn romanses aanknoop met die doel om niksvermoedende slagoffers uit hul geld te bedrieg.

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder in Bloemfontein, het gesê die tendens van mense wat deur middel van aanlynafspraakwebtuistes geteiken word, raak al meer algemeen.

Volgens Marope is die meeste misdadigers se modus operandi om slagoffers op afspraakwebtuistes of in aanlyn-kletskamers te ontmoet en daar met hulle te begin kommunikeer. Nadat die misdadiger die slagoffer se vertroue gewen het, word die slagoffer oortuig om naakfoto’s aan die misdadiger te stuur. “Na ʼn ruk sal hierdie misdadigers eis dat die slagoffers sekere bedrae geld aan hulle oorbetaal of hulle dreig om die naakfoto’s op sosialemediaplatforms te versprei,” sê Marope.

“Verskeie voorvalle van hierdie aard is reeds by die polisie aangemeld en sake van afpersing word ondersoek.” Marope het gesê die polisie doen ʼn beroep op die publiek om paraat en op die uitkyk te wees vir internetbedrieërs wat net op soek is na hul volgende slagoffer.

Maroela Media het in Januarie berig talle mense het onder ʼn soortgelyke slenter deurgeloop nadat hulle op WhatsApp deur bedrieërs geteiken is en oorreed is om naakfoto’s aan die betrokke bedrieër te stuur. Van hierdie slagoffers het tot R12 000 betaal om te verhoed dat die naakfoto’s deur die boosdoeners op die internet gedeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

André ·

Ek kan nie glo mense stuur sommer naak fotos aan ander nie. Hulle ken hulle skaars. Het mense geen selfrespek nie? Mens stuur nooit kaal fotos van jouself aan enige iemand nie punt.

L.L ·

Ek het onlangs eksperimentele navorsing op ‘n prominente aanlyn-afspraak webwerf wat wyd geadverteer word gedoen. Ek het twee vals profiele geskep – een van ‘n blinde, skreeulike, bejaarde weduwee wat skatryk is en in een van die rykste plekke in die land woon, en een van ‘n beeldskone, jong enkellopende vrou wat ‘n pragtige persoonlikheid het maar arm is. Raai wie het die meeste belangstelling gekry?
Binne 48 uur het die skatryk “heks” 26 bewonderaars gehad wat haar wou ontmoet en die mooi maar arm vrou net 1. Dieselfde het gebeur met die mans se profiele – net die skatryk mans het belangstelling gekry. Ek kan dus met volle oortuiging sê dat daar net ‘n klomp geldwolwe op dating sites rondlê, en almal van hulle AFRIKANERS! Wees gewaarsku. Dit wys ook dat enige persoon ‘n vals profiel kan opstel met iemand anders se fotos so jy weet nooit met wie jy regtig praat nie. Daar is ook baie getroude mans wat probeer rondkuier, wees versigtig asseblief.

Alida ·

Ag asb tog die vrouens wat so hard op is moet maar ly. Liewe hemel hoeveel wil nog in dieselfde slagyster trap? Kry vir julle.

Rina ·

Die manne se fotos is bietjie oud. Hulle sê hulle is 40, 50 maar as jy hulle druk vir ‘n foto voor die fisiese ontmoeting lyk dit of hulle 80 is. Ek het al so geskrik hoor. Sulke ou mannetjies met net een haar op die kop wat blyplek soek. Ek het lank met ‘n aantreklike man gesels op whatsapp wat ek op so ‘n site ontmoet het en toe skielik verander sy whatsapp foto na die gesig van ‘n regte skorrie-morrie. Met sulke psycho oë. Skrik ek toe amper my water weg en vra hom wie is dit dan nou. Hy gaan net voort asof niks fout is nie en verwag van my om dit sommer te aanvaar. Toe ek hom nie meer wil ontmoet nie en sy nommer blok ( want as jy oor jou voorkoms kan lieg kan jy oor ander goed ook lieg), toe bel hy my van ‘n klomp onbekende nommers en stuur vir my die allervieslikste dreigemente! Die ander een vir wie ek uitdruklik gesê het dat ek nie belangstel nie het na die dorp gery waar ek woon en oral rondgevra waar ek bly. Ek moes die polisie bel om van hom ontslae te raak so moet nooit jou naam en die dorp waarin jy woon bekend maak nie want die desperados kom soek jou met hulle tas vol klere in die hand om sommer in te trek!!

Middie ·

Enigiemand wat naakfoto’s van hulle vir iemand anders, veral vreemdelinge stuur, moenie oor die gevolge kla of huil nie. Dis vir seker ‘n wenresep vir moeilikheid.

Marie ·

Ja ek stem jy moet maar boet as jy sulke goed stuur gewoonlik is dit on eerlike mans en vroue in verhoudings of huwelike, maar ja sal jou volgende keer twee keer laat dink voor jy aan sluit by sulke goed of gaan krap waar jy nie moet nie. Dis bedoelende op mense wat na sulke goed gaan kyk en aan sluit sies vir julle.

Tammy ·

Geen ordentlike man of vrou sal geselskap soek op so n webwerf nie. Meng jou met die semels dan vreet die varke jou op. Oor die verliese wat hulle te beurt val, kry vir julle,…..jy het daarvoor gesoek. Ha Ha!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

MH ·

Jy stuur ‘n naakfoto van jouself aan iemand wat jy nie ken nie? Jy verdien om jou geld te verloor.

Carien ·

Of jy nou iemand ken of nie, mens stuur nie naak foto’s nie. Geen selfrespek deesdae nie,en as ek nie iemand op n normale “outydse” manier kan ontmoet nie, dan bly ek alleen, maar dating sites, no ways. Enige gomtor en sy maat is daar om te kyk op wie hulle kan jag maak en op teer.

Anoniem ·

As jy wil dom wees, dan is dit maar jou saak. Dan verdien jy maar wat na jou kant toe kom!!!!!!!!

christa Nagel ·

t ek stem saam. Dis nou werklik agterlik. Sy moet maar vir haar kry. Eerstens poseer jy nie eers voor ‘n kamera kaal nie. Jy stuur ook nie kaalfotos vir jou man nie, dis mos iets persoonlik as hy wil sien, kyk hy by die huis. Sekerlik is ‘n man wat na kaalfotos by die werk kyk nie ‘n goeie en getroue werker nie.

Helen ·

Christa dis nie die vrouens wat so gevang word nie dis die mans!!! Daar word nerens gese dis n haar of sy nie???

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek stem saam met sommiges wat kommenaar gelewer het oor die “dating sites” maar mens moet jou kop gebruik. Ek weet van heelparty mans en dames wat daarby aangesluit het en wel goeie gevolge gehad het. Jy kan jouself selfs vasloop met ‘n persoon wat jy deur vriende of familie ontmoet het maar weereens, kyk die kat uit die boom en gebruik jou kop as jy ‘n suksesvolle ondervinding wil geniet.

Dries van Vuuren ·

My Oom Koot het altyd gesê: Dom is lekker maar dan moet jy baaaie dom wees.

WW ·

Ha ha! Paar van die kommentare hierbo het my nou lekker laat lag.
Lyk my die nasie het heel niks by Margaret geleer nie.

Yip ·

Op ouderdom 50 skei ek en ‘n kennis kom kuier. Sy troos en deel raad uit : pasop vir mans wat nou kom kuier, jy gaan sien hulle raak lastig. Op “ons” ouderdom is die manne geskei, uit sy huis uit en helfte van sy pensioen verloor. Nou sy is dierbaar, maar geen ‘oil painting’ nie en ek dog nee wat, ek kan nie dink die manne sou lastig raak nie…. Hoe verkeerd was ek! So wraggies – dit is so. Binne die 1ste jaar het ek 3 mans gevra om asb my nommer te verloor. Een oupatjie van 75 wat by ‘n kerk funksie aan dieselfde tafel was het behoorlik in sy kop al gemeet en pas hoe dra hy sy meubels in my huis in. Dan bel hy om te kom kuier en as ek anwoord nee dankie, ek is in elk geval by die werk, wil hy weet “is jy seker”? …. haha, nee oom, partydae is ek nie helemal seker of ek in die kantoor sit of nie…. duh!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.