Polisie waarsku teen drink en swem

(Argieffoto: Unsplash)

Die polisie in Mpumalanga het Maandag die publiek gewaarsku om nie onder die invloed van alkohol te swem nie nadat ʼn broer en suster Saterdag in ʼn openbare swembad in ʼn park in Barberton verdrink het.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, sê die sibbe, Elvis (33) en June Khumalo (31), het die dag saam met 15 ander familielede ’n partytjie in die Msunduka Park in Barberton gehou.

“Familielede het die aand gesien hoe die twee Khumalo’s gaan swem het. Hulle het toe net skielik soos mis voor die son verdwyn,” sê Mdhluli.

“Die hele familie het na hulle begin soek, maar sonder enige sukses.”

Die soektog is die volgende dag voortgesit.

“ʼn Werknemer van die park het teen die middag iets verdag in die swembad opgemerk. Dit was die twee lewelose liggame van die Khumalo’s wat op die water gedryf het.”

Die polisie en paramedici is na die toneel ontbied en albei is dood verklaar.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om die gevare verbonde aan swem in swembaddens en damme te besef, veral wanneer geswem word sonder voldoende opleiding, sonder behoorlike toesig asook onder die invloed van alkohol.

Die polisie doen ʼn beroep op ouers om veral na hul jong kinders om te sien en hulle nie sonder toesig te laat swem nie. Hierdie waarskuwing volg nadat ʼn tweejarige tweeling Saterdag in ʼn private swembad in Kloof in KwaZulu-Natal verdrink het.

Rescue Care se paramedici is die middag na die toneel ontbied. Rowan Scandroglio, woordvoerder van Rescue Care, sê paramedici het probeer om die seuns by te bring, maar was onsuksesvol. Hulle is op die toneel dood verklaar.

“Dit is in hierdie stadium nog onbekend wat presies gebeur het, maar die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel,” sê Scandroglio.

Die polisie het ook sy kommer uitgespreek oor die gevare rondom vol damme en riviere weens die onlangse swaar reën.

ʼn Jong seun, vermoedelik tien jaar oud, het twee weke gelede in ʼn gat vol reënwater verdrink, en daarna het drie kinders in ʼn stormwatersloot in Hammanskraal ook verdrink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anton ·

Hulle het die aand gaan swem, weg geraak en eers die volgende middag in die swembad opgemerk? Waar het hulle dan na hulle gaan soek??

AndrewL ·

So paar jaar gelede het ek ‘n toneel bygewoon waar ‘n 18 maande oue dogterjie verdrink het.

Die ma en die kinderoppasser het alwee gaan slaap, elkeen met die gedagte dat die ander een na die kind omsien deur die nag. Die kind het uit die huis gekom en in die swembad verdrink, waar haar liggaam die volgende oggend gekry is. Nie een wou verantwoordelikheid aanvaar nie.

Dit is sulke tonele wat jare daarna nog na mens terugkom en jou wakker maak in die nag met meer vrae as antwoorde.

Mudguard ·

Net die polisie mag drink en bestuur, drink en swem , dronk op diens wees en sommer als dronk doen.

johanf ·

Ek was jare gelede betrokke in my beroep waar ń man erg gedrink was, baie warm in son gebak, net by die diep kant ingespring het, nie weer opgekom, hartaanval….. Sal dit nooit vergeet nie.
Dankie vir die waarskuwing, SAPD, mag die oningeligtes ag slaan daarop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.