Polisie waarsku teen kapers se nuwe werkwyse

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het motoriste vandeesweek gewaarsku teen ʼn nuwe werkwyse wat kapers glo gebruik om afleweringsvoertuie te kaap.

Volgens die polisie kontak kapers glo afleweringsmaatskappye om onder meer vuurmaakhout of gras vir hulle op te tel en af te lewer, waarna hulle die voertuig in ʼn afgeleë gebied kaap.

Konst. Connie Moganedi, woordvoerder van die polisie, sê talle van dié voorvalle is in die Cullinan omgewing in Gauteng aangemeld.

Moganedi sê die kapers betaal onder meer ʼn deposito aan die afleweringsmaatskappy om die transaksie eg te laat lyk en om te verseker dat dié maatskappye nie onraad vermoed nie.

“By die afleweringsmaatskappy se aankoms by die plek waar hulle nou kwansuis goedere moet oplaai, word die bestuurder beroof van sy besittings en word die voertuig gekaap,” sê sy.

Sy sê dit is veral moeilik om dié soort misdade vooraf te probeer identifiseer omdat die misdadigers die maatskappy telefonies kontak en daar dus niks vreemd aan dié transaksies is voordat die misdaad gepleeg word nie.

Moganedi het gesê motoriste, maar veral afleweringsmaatskappye, moet waaksaam wees en nié instem om na afgeleë gebiede te ry mits hulle die omgewing ken nie.

Sy het lede van die publiek aangemoedig om dié misdade onder die polisie se aandag te bring deur die misdaadnoodlyn te skakel by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

Hul is mos bewus van die probleem, hoe maklik kan dit nie wees om hulle vas te trek nie of is dit dalk te veel werk.

Anoniem ·

Maklik om vas te trek? Gaan jy elke liewe aflewerings voertuig vergesel om vas te stel of dit dalk of dalk nie ‘n kaping kan wees!

Elsa ·

Hi Jacking Hotspot oral op paaie en wat word gedoen om kapers vas te trek?
Wanneer gaan ons weer veilig voel op die paaie?
Ontplooi sigbare eerlike polisie en sekuriteite , van vroeg tot laat nie net na 2 in die middag nie

Johanna Botha ·

Stel n lokval polisie ! …dat ek nou op my oudag die mense moet leer om hulle werk te doen !

Oom Piet ·

Dink vooruit nes geslepe kapers/skelms wat vooraf bespied vir lokval bv. gewapende trok beskermers versteek IN toe trok of OP oop trok onder seile wat gedwonge by hul bespied plek (bv. koppie of gebou) moet verby ry, en of trok vergesel word deur ander voeruie. Gaan op Google Earth en kyk vooruit en beplan alternatiewe roete. Nadat jy die deposito ontvang het gebruik dit om vooraf die klient se ID en woonplek te verkry wat deeglik bevestig moet word, alvorens jou kosbare trok vertrek. Dink en doen vooruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.