Polisie waarsku teen kaping-slenter

noord-kaap-pad.jpg

Argieffoto (Foto: africanreservations.com)

Die polisie in die Vrystaat het motoriste gewaarsku om op hul hoede te wees nadat nóg ʼn motoris byna die slagoffer van ʼn kaping was waar ʼn spesifieke modus operandi gevolg word.

Konst. Mosili Ntsika, polisiewoordvoerder, het gesê vermeende kapers versper paaie met klippe om sodoende motoriste te dwing om te stil te hou. Wanneer die motoris uitklim om die klippe te verwyder, word hul motor gekaap. “Hierdie neiging raak al meer gewild, veral op die R702 of Dewetsdorppad buite Bloemfontein,” het sy gesê.

Volgens Ntsika het ʼn motoris Sondag omstreeks 18:30 met dié pad gery toe hy op klippe in die pad afgekom het. “Toe hy uit sy motor klim om die klippe te verwyder, het drie verdagtes op hom toegesak en probeer om sy motor te kaap. Gelukkig het hy geskree en lede van die gemeenskap het ingegryp. Die drie mans het in ʼn motor sonder nommerplate gevlug,” het Ntsika gesê.

“Motoriste word gewaarsku om versigtig te wees en eerder om die klippe te ry of om te draai wanneer hulle in soortgelyke situasies beland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Poplap ·

Hoekom het boewe en rowers meer regte as ons wat betaal om ons paaie te gebruik!! Waar is die metropolisie wat die snelwee moet patrolleer om hierdie dinge raak te sien?? Sit seker en slaap onder ‘n boom weer soos gewoonlik!!!

Theresa ·

Hulle is te vet om te beweeg en teen daardie tyd van die dag is hulle al “uitgeput” van niks doen.

Pendoring ·

Dis reg, braak gal oor iets waarvan julle niks weet nie! As ‘n reel is kriminele redelik dom, maar hulle is slim genoeg om te weet dat die Polisie elke soveel minute of ure verbykom. Dit neem hulle 20-30 sekondes om ‘n pad met klippe te versper. Dis in hierdie tyd wat jy as verantwoordelike persoon moet oppas. Lees die berig, hulle het die pad so saggies en vinnig versper dat die gemeenskap eers daarvan geweet het toe die persone begin skree het.

Penkop ·

Hoe is dit moontlik dat mense nog stilhou by klippe wat op ‘n pad gepak is in hierdie tye in hierdie land?

Mina Venter ·

Waar kan mens kla as die mense grondwalle oor die pad gooi? Dis so hoog dat jou kar skuur as jy daar oor ry.

Peet Schabort ·

Ek neem aan dat dit ook in leegtes is wat die klippe gepak word want dis hoe hulle opereer.
Wanneer jy stil hou langs die pad moet dit natuurlik nie bebos wees maar hou ook op ‘n hoogte stil sodat jy om jou kan sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.