Polisie waarsku teen kapingsbende in KZN

(Argieffoto)

Die polisie in KwaZulu-Natal het ʼn beroep op die publiek gedoen om uiters bedag te wees op kapers wat aktief is in die provinsie.

ʼn Vermeende sindikaat teiken volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, veral sakelui in die Umkhanyakude-distrik in die noorde van die provinsie.

Die boewe bel sakelui onder die voorwendsel dat hulle ʼn kwotasie vir ʼn produk of diens benodig en lok hulle dan na ʼn afgeleë plek waar ʼn groep gewapende mans hulle oorrompel.

“Die slagoffers word gewoonlik met vuurwapens aangehou en van hul besittings en voertuig beroof. Die rooftogte vind gewoonlik ver van ʼn hoofpad of polisiestasie plaas en dit neem die slagoffers ure om hulp te kry,” het Mbele gesê.

“Die meeste van die voertuie word oor die grens geneem.”

KwaZulu-Natal het nes die Wes-Kaap en Gauteng die afgelope jaar onder kapings deurgeloop. Volgens die polisie se jongste misdaadsyfers het kapings in KwaZulu-Natal met 10% toegeneem en altesaam 3 041 kapings is in die provinsie aangemeld. Dit is ʼn toename van 277 voorvalle. Altesaam 70 vragmotors is in die 2019-’20-boekjaar in die provinsie gekaap.

Landwyd is 18 162 kapings aangemeld, ʼn toename van 13,3%.

Net drie van die 30 polisiestasies waar die meeste kapings aangemeld word, is in KwaZulu-Natal. Dié polisiestasies is Inanda, Umlazi en Umbilo.

Mbele het sakelui wat oproepe vir enige vorm van diens in die omgewing kry, aangeraai om voornemende klante by die naaste polisiestasie te ontmoet.

“Die polisie in die omgewing moet geraadpleeg word om te verseker dat sakelui nie in ʼn lokval gelei word nie en dat die oproep inderdaad geloofwaardig is,” het sy gesê.

Só lyk kapings per provinsie:

Oos-Kaap1 111 (+6%)
Vrystaat241 (+2,1%)
Gauteng9 025 (+16,1%)
KwaZulu-Natal3 041 (+10%)
Limpopo458 (-3,4%)
Mpumalanga999 (+8,9%)
Noordwes493 (+3,1%)
Noord-Kaap34 (-12,8%)
Wes-Kaap2 760 (+20,3%)
Totaal:18 162 (+13,3%)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Nou waarom stel die trots van die nasie nie ‘n lokval nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.