Polisie waarsku ná reeks verkragtings

Argieffoto

Argieffoto

Die Vrystaatse polisie het die inwoners van Thabong naby Welkom en omliggende gemeenskappe gewaarsku nadat talle jong seuns onlangs in die gebied verkrag is.

Sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, het gesê talle klagtes van verkragting is die afgelope tyd by die Thabong-polisiestasie aanhangig gemaak waarin ʼn jong seun telkens die slagoffer is.

In die mees onlangse geval is ʼn 12-jarige seun Woensdag omstreeks 14:30 in ʼn veld in die gebied verkrag. “Die verdagte gebruik elke keer dieselfde modus operandi om sy slagoffers na ʼn afgeleë gebied te lok,” het Mokhuoane gesê.

“Daar word beweer dat die verkragter die slagoffer vra om hom te help om na geld te soek wat hy verloor het en wanneer hulle ver in die veld in is, verkrag hy hulle. Die verdagte teiken vermoedelik skoliere wat in Bronville bly, maar in Thabong skoolgaan en elke dag die roete tussen hul huise en die skool moet stap.”

Mokhuoane het gesê die seuns wat slagoffers van die verkragter was, is almal tussen die ouderdomme van tien en 14 jaar. Sy het gesê dit is nog nie duidelik of al die verkragtings deur dieselfde persoon uitgevoer is en of daar verskeie verdagtes betrokke is nie.

“Die polisie doen ʼn beroep op skoliere om in groepe te stap en op die uitkyk te wees vir verdagte persone. Ouers word ook aangeraai om hul kinders se name aan die binnekant van hul skooltasse aan te bring eerder as aan die buitekant, omdat die naam dit makliker maak om die kinders te teiken.”

Mokhuoane het gesê polisiebeamptes is ontplooi om die gebied te patrolleer. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lance ·

Almal is nou gewaarku nou kan ons maar agteroorsit en die versnapperings geniet met die volgende tee.

Victorious ·

Hoekom word misdadigers se name en gesigte van die publiek weerhou?? Ek dink dit moet elke dag geadverteer word sodat almal presies weet wie hulle is dan sal hul bewegings ook beperk word. Hoe moet die kinders weet vir wie hulle moet uitkyk?

Anoniem ·

Wat ek regtig nie kan verstaan…Hoekom stap ons mense alleen..kinders…volwassenes….Weet hul nie wat aangaan daarbuite nie of gee hul net eenvoudig nie om…gooi n blinde oog met n dowe oor daarby. Hoekom laat ouers toe dat hul kinders alleen die strate invaar. Genade mense ons leef in n era waar ons verkrag en vermoor word of net verdwyn en nooit weer gekry word nie. Mense word wakker ons leef in n bose wereld!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.