Polisie wat drank uitdra se optrede was wettig – kroegeienaar

Die polisievoertuig by die kroeg (Foto: Skermskoot uit video)

Polisiemanne wat drank uit die agterkant van ’n polisievoertuig laai en by ’n perseel indra, het nie onwettig opgetree nie en bloot die eienaar van die kroeg gehelp om sy voorraad van sy huis terug na die kroeg te vervoer.

Maroela Media het vroeër berig ʼn video wat wys hoe lede van die polisie die drank uit hul voertuig laai, is wyd op sosiale media versprei en het selfs tot gevolg gehad dat die polisie se bestuur die voorval ondersoek. Nou blyk dit die een hand weet nie wat die ander doen nie, want die kroegeienaar het Woensdag aan Maroela Media gesê hy het self met die polisie gereël om hom te help om die drank te vervoer. Die eienaar wil anoniem bly.

“Met die instel van die aangepaste vlak 3 van afsondering in Desember, het ek al die drank wat in my kroeg in Centurion oorgebly het, na my huis in ’n kompleks verskuif. Ons was besig met bouwerk by die kroeg en het daarom besluit dat die drank veiliger by my huis gestoor kan word,” vertel die eienaar.

“Ek het die drank in my motorhuis gestoor. Tydens die afsonderingstydperk het een van die kompleks se sekuriteitswagte my kom waarsku dat my motorhuis dopgehou word en mense sien dat ek drank daar stoor. Die bouwerk by die kroeg was teen daardie tyd afgehandel en ek het besluit om die drank na die kroeg terug te skuif.”

Die eienaar beweer hy het die plaaslike drankbeampte, wat daardie tyd by die Lyttelton-polisiestasie gestasioneer was, gekontak en gevra om hom te help om die drank na die kroeg te skuif.

“Ek wou seker maak ons doen dit volgens die wet.”

Volgens die eienaar het hy en dié drankbeampte die Maandagoggend vergader. Die beampte het ingestem om hom te vergesel wanneer die drank verskuif word, soos in die regulasies uiteengesit. Die regulasies met betrekking tot die rampbestuurswet, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, bepaal dat drank van enige gelisensieerde perseel vervoer mag word vir bewaring.

“Omstreeks 13:30 het ons die alkohol in die polisievoertuig gelaai en na die kroeg geneem. My personeel en die winkelsentrum se sekuriteitswagte het gereed gestaan om die drank af te laai en in die stoorkamer toe te sluit.”

Die polisie het na afloop van die voorval ’n verklaring uitgereik en gesê sy ondersoek na bewerings dat een van sy beamptes ’n gemerkte polisievoertuig gebruik het om drank mee rond te ry, is afgehandel en ’n aanklagte teen die betrokke lid is reeds aanhangig gemaak.

Hoewel Maroela Media die polisie met die nuwe feite konfronteer het, wou brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, nie verder uitwei oor die saak nie.

Die eienaar sê hy het self intussen ’n verklaring aan die polisie gestuur om sy weergawe van die voorval te gee.

Volgens die eienaar was dit ’n personeellid van ’n onderneming oorkant die kroeg wat die video geneem en op sosiale media geplaas het.

“Ek het die volgende dag na die onderneming gegaan en aan die bestuurder verduidelik dat daar geen onwettige aktiwiteit plaasgevind het nie. Die personeellid is daarna ingeroep en die situasie is aan hom verduidelik. Hy het om verskoning gevra en die video onmiddellik van sosiale media verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Androclus ·

Somtyds is selfone nie goed soos in hierdie geval nie,hy’t gedink hy is die lyk op die begrafnis.

Stefan ·

Mooi man, ek het ‘n klomp sakke hondekos wat ek by die huis moet kry.
Kan ek ook van hierdie ‘veilige’ transport gerief gebruik maak?

Aai ·

Ek stem nie saam met daai man dat die polisie dit moes vervoer .Hy kon dit self vervoer met dokumente van polisie dat hy dit kon vervoer ja maar nie met belasting betaler se geld nee.

Deon ·

So, die polisie is nou n gratis vervoer diens? Is dit waarom ons kinders en andere in polisie voertuie sien ry van en na die skole en supermarkte en so aan? En intussen as iemand jul bel vir hulp, dan is daar in menige gevalle nie n voertuig op die oomblik beskikbaar nie.

Tanniepetoors ·

Van wanneer af is die SAPD ‘n gratis vervoerdiens? Gaan vertel daai bogstorie vir idiote, nie vir regdenkende mense nie.

Sonneblomkind ·

Ai tog….lekker man lekker so sien ons baie dinge ne

Piet parys ·

So maw jyt nie n staatsvoertuig en personeel vir privaat doeleindes gebruik nie . JY PRAAT NOU NET???? om jou eie bas te red . Jy is skuldig soos die guptas wat staats vliegtuie misbruik het . Wonder hoeveel drank het jy jou koerier polisiemanne belowe . Hulle moet ook afgedank word .

Genis ·

Hulle kon miskien begely het.. maar nie Vervoer nie… ek is n aap maar n ou aap…

Peetjie ·

Ek het lank gewonder of ek moet kommentaar lewer…. Van wanneer af sal die polisie so gaaf wees om te help om drank te help uitdra as daar nie vir hulle iets in ruil is nie…dalk n gratis doppie if twee?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.