Polisie weier glo hulp in ondersoek na moord op DA-man

Raadslid Nhlalayenza Ndlovu. (Foto: Facebook)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het onlangs inligting bekom wat deurslaggewend kan wees in die ondersoek na die polities gedrewe sluipmoord op Nhlalayenza Ndlovu, hoofsweep van die DA in die uMngeni-munisipaliteit in KwaZulu-Natal.

Maroela Media het vroeër berig die DA se onafhanklike taakspan het die hulp en kundigheid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie ingeroep om die moord op Ndlovu te ondersoek. Die eenheid is ook formeel versoek om ondersteuning en regsbystand aan die Ndlovu-familie te verleen.

Ndlovu is op 4 Desember verlede jaar ten aanskoue van sy vrou, die egpaar se twee kinders en hul oppasser in sy huis op Howick doodgeskiet. Hy is meer as tien keer geskiet en die meerderheid van die skote is afgevuur terwyl hy hulpeloos op die vloer van sy huis gelê het.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het genl.maj. Dumisani Khumalo, hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, egter alle kommunikasie met die private eenheid gestaak ondanks dié eenheid se gretigheid om die polisie by te staan.

“Dit laat vrae ontstaan oor die polisie se bereidwilligheid om politieke moorde te ondersoek. Veral dié waarby lede van die opposisieparty betrokke is en waar slagoffers nie bondgenote van die regerende party of sy politieke maats is nie.”

Die eenheid, onder leiding van Nel en ’n span spesialisondersoekers, het sedert Januarie uitgebreide konsultasies gedoen en talle leidrade in die uMngeni-gebied opgevolg.

“Ons het tydens ʼn vergadering met Khumalo op 13 Maart ons bereidwilligheid te kenne gegee om saam met die polisie te werk. Ongelukkig het Khumalo intussen alle kommunikasie gestaak en weier hy, ondanks die verpligting wat op die polisie rus, om Ndlovu se weduwee en gesin op die hoogte van vordering met die ondersoek te bring,” sê Nel.

Nel het op 19 Maart in ʼn brief aan Khumalo die stand van sake as volg opgesom: “Die oënskynlike onwilligheid om ʼn samewerkingsverhouding met die polisie te bevorder om hierdie gevoellose sluipmoord op te los, is teleurstellend…

“Ten spyte van die aanduiding dat ons dalk met die ondersoek kan help omdat ons toegang het tot inligting van mense wat nie die polisie vertrou nie, was daar geen belangstelling nie.

“Dit het duidelik geword dat daar geen voorneme is om van die gekose ‘ondersoekplan’ af te wyk nie. Die vergadering het die gevolgtrekking aangewakker dat die polisie meer gemoeid is met die beheer van ondersoeke en ’n narratief, as om hierdie spesifieke moord op te los,” sê Nel.

Die polisie het egter op 11 April ʼn beroep gedoen op die publiek om te help met die opsporing van Zwelithini Buthelezi, ʼn indoena in die Mpophomeni-omgewing. Buthelezi word gesoek in verband met ʼn saak van moord en poging tot moord op die dorp Impendle in KwaZulu-Natal.

Dié oproep volg nadat Buthelezi versuim het om in die Howick-landdroshof te verskyn. Buthelezi staan tereg op ’n aanklag van diefstal van transformators wat deur die uMngeni-munisipaliteit besit word.

“Wat egter nie bekend gemaak is nie, is dat die polisie Buthelezi wel weke vantevore in hegtenis geneem het, maar dat die staat nie sy aansoek om borg teengestaan het nie.

“Indien Khumalo ingestem het om met die privaatvervolgingseenheid saam te werk, sou Buthelezi ’n noukeurige ondersoek in die gesig gestaar het op aanklagte wat verband hou met Ndluvo se moord,” sê Nel.

Hy meen die polisie het óf hul inligting van die vervolging weerhou óf, ondanks die feit dat die eenheid se kliënte ingelig is dat die diefstalsaak gebruik is om Buthelezi te teiken, geensins nader daaraan was om enige misdaad op te los nie en “die span net na strooihalms gegryp het”.

“Ons herhaal die sentiment wat in ons vroeëre brief uitgespreek is dat die polisie verplig is om die samelewing te dien en te beskerm en alle sake sonder vrees, guns of vooroordeel te ondersoek.

“Ons benadruk dat hierdie plig nie die polisie toelaat om die ondersoek van sake te ontduik waar die slagoffers nie bondgenote van die regerende party is nie,” sê Nel.

Die eenheid het genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sedertdien in kommunikasie aan Khumalo ingesluit.

“Ons herinner onsself daaraan dat die polisie, wat indoena Buthelezi ’n paar weke gelede in hegtenis geneem het, hom vrygelaat het sonder om borgtog teen te staan,” het Nel in ’n brief wat op 19 April aan Khumalo en Masemola gerig is, gesê.

Hy sê dit is nie verbasend dat daar geen reaksie van die kommissaris van die polisie was nie.

“Dit blyk ook dat Khumalo steun het vir sy besluit om nie die slagoffer se familie op hoogte van die vordering van die ondersoek te hou nie en om selektief te besluit watter inligting of bewyse hulle in die dossier gaan versamel.

“Die eenheid sal voortgaan om te poog om met die polisie in gesprek te tree, maar sluit nie die moontlikheid uit om hof toe te gaan om die owerhede te dwing om hul pligte uit te voer nie,” sê Nel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.