Polisie weier glo om klag van aanranding te registreer 

AfriForum se ondersoekeenheid het Leonie Kambouris (middel) bygestaan om ‘n klag van aanranding teen haar man te lê. (Foto: verskaf)

AfriForum se privaat vervolgingseenheid het op 5 Augustus ʼn vrou van Benoni gehelp om ʼn klag van aanranding teen haar man in te dien. Dít nadat polisiebeamptes glo in Julie geweier het om die klag te registreer omdat die vrou “self ook aandadig was aan die aanranding”.

Volgens AfriForum se privaat vervolgingseenheid het Leonie Kambouris in Junie 2020 reeds ’n beskermingsbevel teen haar man verkry. Kambouris getuig in haar beëdigde verklaring dat sy sedert 2014 in ’n verhouding betrokke is waarin sy mishandel word. In dié tydperk het sy verskeie ernstige beserings opgedoen, waaronder ’n miskraam. Daar is ook vroeër vanjaar ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die beskuldigde in die saak uitgereik, maar dit het verval sonder dat hy ooit in hegtenis geneem is.

Op 25 Julie 2020 wou Kambouris ’n klag by die polisiestasie indien nadat sy ernstige beserings opgedoen het, onder meer kneuswonde aan haar gesig en skade aan haar oogsenuwees. “Volgens Kambouris het die SAPD egter geweier om ’n klag te open, aangesien hulle meen dat sy self aandadig was. Hulle het glo daarna verwys as bloot ’n voorval van huishoudelike geweld,” sê Phyllis Vorster, ʼn aanklaer verbonde aan die eenheid.

Die privaat vervolgingseenheid se ondersoekspan het Kambouris gehelp om ’n volledige beëdigde verklaring af te lê. “Desondanks het polisiebeamptes [op 5 Augustus] weer geweier om die verklaring af te neem en haar in die openbaar daarvan beskuldig dat sy 50% aandadig was aan die aanranding,” sê Vorster.

“Die beampte aan diens het ook geweier om die reeds beëdigde verklarings te gebruik en die slagoffer moes noodgedwonge haar eie verklaring woord vir woord lees sodat die beampte dit kon neerskryf. Dit was die enigste wyse om te verseker dat haar klag wel geregistreer word.”

Vorster sê dit is kommerwekkend dat AfriForum by al hoe meer sake soos hierdie betrokke moet raak om die owerhede te dwing om hul werk te doen. “Die regstelsel versaak die weerloses in ons gemeenskap toenemend – boonop terwyl politici beloftes maak van streng optrede teen diegene wat misdade teen vroue en kinders pleeg. Dié geval is weer eens bewys daarvan dat daar in baie gevalle ’n onvermoë of onwilligheid by owerhede is om hul pligte uit te voer,” sê Vorster.

Maroela Media het navraag gedoen by die provinsiale polisie oor die voorval en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel ·

Die voorbeeld wat die SA Regstelsel stel vir die beskerming van Vroudns dn konders.
Maar…. steeds sedert 2014 en sy is nog in die verhouding?

Charmaine ·

Die feit dat hierdie vrou nie hulp en bystand kon kry sedert 2014, is die skokkende gedeelte hier. Hierdie slagoffers is so emosioneel en sielkundige afgebreek, en ek kan maar net dink as die polisie jou nie eers wil help en ernstig opneem nie- waarnatoe draai jy? Die vrou moes nog 10 maal meer hulpeloos en alleen gevoel het.

Wondermaarnet ·

En die beampte besluit self watter persentasie aandeel die dame in die aanranding het. Wow, nie geweet die SAPS betaal hul mense om sulke diagnosis te maak nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dit is dalk eerder blatante luiheid om te help. Maar, dit kan natuurlik ook rasgedrewe wees? Wat is die beampte se ras, of mag ons nie vra nie?
Mens staan na 25 jaar telkens steeds verstom oor die onkunde, slegte houding, swak of gebrek aan opleiding, traakmynieagtigheid, rassisme en dies meer waarmee Jan en Alleman te doen kry.

Ou gees ·

Ek verstaan nie hoekom die polisie die verklaring moet skryf nie. Hulle skryf net wat hulle wil en verstaan nie wat jy sê. As jy die verklaring wil korrigeer dan word hulle woedend vir jou, asof jy nie weet waaroor jy ‘n verklaring kom aflê nie. Dan moet jy nou die verklaring teken en meineed pleeg.

Die polisie, met wat ek mee te doen al gekry het, beteken absoluut niks.

Blikkies ·

Deldi, Jy is 100% korrek, ongelukkig moet ek ook baie van die SAPD gebruik maak en elke keer ervaar ek dieselfde. Hulle is Dom, kan nie skryf of spel nie, verstaan nie, en weet self nie wat hulle skryf en hoekom nie. Pateties skandelik verby.

Cornrit ·

Ek wil nie afbrekend klink nie, maar die SAPD bestaan deesdae meestal uit n klomp onopgeleide, onopgevoede, lui en dom lede. Daar is wel uitsonderings, maar slegs n baie klein persentasie. Die meeste kan nie behoorlik skryf nie, maar wanneer dit kom by korrupsie, is die meeste uiters bekwaam. Tensy iets drasties gedoen word, wag hier nog groot moeilikheid in hierdie land van ons. Begin sommer heel bo in die rangordes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.