Polisie wil dam afsper na nóg mortiere gevind word

Een van die mortiere wat by die dam gevind is. Foto: SAPD

Die polisie in Uitenhage het nóg 15 mortiere in die omgewing van die Strelitziadam gekry, nadat verskeie ander mortiere vantevore daar gevind is.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het gesê altesaam 19 mortiere is tot dusver gevind.

Maroela Media het vroeër berig die polisie op die dorp het lede van die publiek gemaan om nié enige vreemde voorwerp wat in die omgewing van die dam gevind word, op te tel of te hanteer nie.

Dit kom nadat twee mortiere Vrydag by die dam gevind is. Die mense wat dit gevind het, het dit vervoer sonder om te besef dat dit dodelike gevolge kan inhou. Die mortiere was nog aktief.

ʼn Hengelaar het Saterdag ʼn derde mortier gevind en dit ook onwetend hanteer. Hy het die polisie daarvan in kennis gestel wat op die mortier beslag gelê het.

Die dam se dalende watervlak die afgelope paar maande is moontlik die rede vir die onlangse vlaag ontdekkings.

“Die polisie is tans in gesprek met die [Nelson Mandelabaai]-munisipaliteit om die dam te sluit, sodat die bomopruimingseenheid ʼn behoorlike deursoeking kan doen om te verseker dat ál die mortiere herwin word,” het Kinana gesê.

Die polisie het die publiek ook wéér gemaan om nié enigiets wat lyk of dit moontlik ʼn mortier kan wees, te hanteer nie, maar om die Uitenhage-polisie dadelik te kontak.

Kinana het gesê die polisie se ondersoek na die ontdekkings duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

remondo ·

DUH………….. sluit die dam of moet iemand eers seerkry???

PJC ·

Volgens vandag se koerante is die mortiere van buitelandse oorsprong so hulle is dan nie van die weermag afkomstig nie. Dalk is hulle deur een of ander “comrade”daar weg gegooi.

Lord Oom Piet ·

Vir seker nie SA 60mm patrolliemortiere nie. Tipiese Joegoslawiëse M73 brisante wat deur SWAPO en plaaslike terroriste gebruik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.