Polisie wil glo nie bekende bure vervolg

Cindy O’Neil kort ná die beweerde aanranding. (Foto: Verskaf)

*Waarskuwing: Hierdie berig bevat inhoud wat sensitiewe lesers kan ontstel.

ʼn 52-jarige Johannesburgse vrou moet volgende week in die Roodepoort-landdroshof verskyn nadat die glanspersoonlikheid teen wie sy ʼn aanrandingsaak aanhangig gemaak het, ʼn teenklag teen haar ingedien het.

Dít terwyl die polisie nog geen vinger verroer het om Gugu Khathi, vrou van die platejoggie DJ Tira, in hegtenis te neem nie. Dit is boonop nie die eerste keer dat Khathi van aanranding aangekla word nie.

Cindy O’Neil beweer Khathi het haar op 8 November 2019 voor haar huis aangerand.

Die O’Neils en Khathi’s woon oorkant mekaar in ʼn doodloopstraat in die Willowbrook-spoglandgoed in Ruimsig.

Khathi, ʼn voormalige deelnemer aan die werklikheidsprogram The Real Housewives of Johannesburg, het in April vanjaar opslae in die media gemaak ná bewerings dat sy haar mededeelnemer, Christall Kay, by ʼn nagklub aangerand het.

Luidens berigte het Kay ʼn saak teen Khathi aanhangig gemaak, waarna Khathi óók ʼn teenklag teen Kay ingedien het.

Khathi het op sosiale media gesê sy het in selfverdediging opgetree.

Niemand is in verband met dié voorval vervolg nie.

Vervolging staar O’Neil wel in die gesig en sy moet op 9 September in die landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Luidens die saaknommers wat aan Maroela Media verskaf is, blyk dit dat Khathi die teenklag sowat 130 sake ná O’Neil ingedien het. Dié sake sloer al bykans twee jaar lank.

Haar prokureur, Alexander Opperman, meen Khathi spring vervolging weens haar beroemdheid vry, terwyl O’Neil nou onskuldig as die sondebok uitgemaak word.

Vrou sien ‘sterretjies’ ná hou

Volgens O’Neil was sy en haar man, Benjamin, op die dag van die beweerde aanranding besig om Kersfeesliggies buite hul huis op te hang toe Khathi se seun glo met sy motor by die Khathi’s se erf in- en uitgejaag het.

O’Neil het haar vervies aangesien haar drie kleinseuns van onderskeidelik vier, vyf en nege jaar oud op hul fietse voor die huis gery het.

“Ek het my arms in die lug gegooi en my vinger rondgeswaai om te wys dat sy gejaery onaanvaarbaar is. Die volgende oomblik het Gugu uitgestorm en my gekonfronteer.

“Sy het haar vinger na my gewys en gesê dis my derde waarskuwing. Ek het nie ʼn benul gehad wat sy daarmee bedoel het, of waar sy daaraan kom nie.”

O’Neil het haar kleinkinders aangesê om in die huis te gaan en Gugu gevra om van haar eiendom af te gaan.

O’Neil sê Khathi het agtertoe getree en oor een van die kleuters se fietse gestruikel.

“Ek het haar probeer ophelp, maar kon dit nie regkry nie. Twee mans het intussen uit haar huis gekom en haar opgehelp. Ek het besluit om eerder net weg te stap en my rug op haar gedraai.

“Die volgende oomblik het ek net sterretjies gesien.”

O’Neil beweer sy het Khathi glad nie sien kom nie en ook nie die aanranding verwag nie.

“Sy het my een keer hard op die neus geslaan. My hele gesig was geswel, my neus het gebloei en my oë was kort daarna potblou.”

Cindy O’Neil kort ná die beweerde aanranding. (Foto: Verskaf)

Volgens O’Neil het sy in geen stadium haar hande teen Khathi gelig nie. Die O’Neil-egpaar het kort ná die voorval ʼn aanrandingsaak by die Honeydew-polisiestasie ingedien.

In die dagvaarding wat verlede week aan O’Neil beteken is, word beweer dat sy Khathi “gestamp en op die grond gesleep het”.

“Dit is absoluut vals,” sê Opperman.

Hy beweer sy kliënt en haar man is oor die afgelope twee jaar herhaaldelik op verskeie maniere gedreig en geïntimideer – vermoedelik om die saak teen Khathi te laat vaar.

Verskeie bewysstukke is deur Opperman en die O’Neils aan Maroela Media verskaf.

Opperman sê daar is ook ʼn video van die voorval wat deur kameras in die landgoed vasgevang is.

“Ons kry egter geen samewerking van die huiseienaarsvereniging om die video te oorhandig nie.”

Volgens Opperman bewys dié video onomwonde dat O’Neil onskuldig is.

Kapt. Mavelo Masondo, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê albei vroue se sake sal volgende week gelyktydig aangehoor word, waarna daar besluit sal word wie die skuldige party in die voorval was.

Volgens Opperman is dit egter nie waar nie.

“Net my kliënt word vervolg. Daar is geen dagvaarding of vervolging teen Khathi nie.”

O’Neil het ook ʼn siviele eis van R400 000 teen Khathi ingestel, waarop Khathi glo ook met ʼn teeneis gereageer het.

Dié saak is nog nie aangehoor nie en dit is ook nie duidelik wanneer dit voor die hof gedaag sal word nie.

Maroela Media het vir Khathi en haar regspan om kommentaar genader, maar teen Sondag nog nie terugvoer in dié verband ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Zombie

Klas en opvoeding kan nie gekoop word nie. Buite blink …

MrMagic

Baie sterkte Cindy O’Neil, hoop dat geregtigheid sal geskied.

Paul

Ek dink men’s moet verstaan.. n vuishou is aanranding gewoon.. arrestasie word nie uitgevoer vi aanranding gewoon nie

Elmarie

Bekend of te not, dames tree nie so op nie siesa! Maar as mens al voorheen daarmee weggekom het… Wonder of sy ‘n heldin is in haar kinders se oë

Willem

Dis hkm hierdie slegte nikswerd polisie vermoor word nie want hulle is rassistiese [email protected]!!!