Polisiebeampte beroof, geskiet

Argieffoto.

ʼn Polisiebeampte wat van diens af was, is na bewering Sondagaand deur twee mans oorrompel nadat hy in ʼn parkeerterrein in die Richardsbaai-middestad in KwaZulu-Natal gestop het.

Die twee mans het hom aangeval en van sy dienspistool en sy motor beroof. Die verdagtes het skote op die polisiebeampte afgevuur en hy het verskeie skietwonde opgedoen. Hy is na ʼn hospitaal geneem waar hy steeds in ʼn ernstige toestand is.

Die Empangeni-honde-eenheid, in samewerking met die Ulundi- taktiese reaksiespan, het kort daarna inligting rakende die betrokke verdagtes ontvang en opgevolg. Die polisiebeampte se voertuig is in die Malmoth-omgewing opgemerk, waarna die polisie die verdagtes agternagesit het.

ʼn Skietgeveg het ontstaan en die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor.

Die twee verdagtes, 23 en 29 jaar oud, is in hegtenis geneem en die polisiebeampte se vuurwapen is in hulle besit gevind.

Die verdagtes staan tereg op aanklagte van die besit van gesteelde goedere, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hulle het Maandag in die Melmoth-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het die aanval op die polisiebeampte streng veroordeel.

“Misdadigers moet weet dat ʼn aanval op ʼn polisiebeampte ʼn aanval op die land is.

“Dit is ontstellend om te hoor dat ʼn polisiebeampte aangeval word terwyl ons nog rou oor kapt. Thulani Louis Muthunyana Molefe wat verlede week vermoor is.”

Maroela Media het vroeër berig kapt. Molefe se vermeende moordenaar is Saterdag in ʼn skietgeveg met die polisie dood.

Bheki Cele, minister van polisie, sal vandag kapt. Molefe se begrafnis bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.