Polisiebeampte buite huis doodgeskiet

Argieffoto: SAPD

ʼn 45-jarige polisiesersant is Donderdag buite sy huis in Khayelitsha in Kaapstad doodgeskiet.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die sersant was nie aan diens nie toe hy omstreeks 20:35 buite sy huis in Jamastraat doodgeskiet is. Hy was aan die Lentegeur-polisiestasie verbonde.

Volgens Traut is die beampte deur twee gewapende mans oorval wat geëis het dat hy sy vuurwapen aan hulle oorhandig. Die beampte het nie sy wapen by hom gehad nie aangesien hy dit by die polisiestasie los vir veilige bewaring. Volgens Traut het die verdagtes die sersant hierna doodgeskiet.

“Die verdagtes het ʼn onbekende bedrag kontant en die sersant se selfoon gesteel voor hulle op die vlug geslaan het,” het Traut gesê.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het gesê die polisie sal alles in hul vermoë doen om die skuldiges vas te trek. “Ons sal alle moontlike pogings aanwend en ons hulpbronne inspan om die twee verdagtes in hegtenis te neem.”

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

WILDE WESTE ·

Die skelms is nie eers meer bang vir polisiemanne nie, en dit lyk my hulle is ook nie eers meer bewapen as hulle van diens af is nie, nog ‘n groter onding. Arme mense, almal weet hulle is polisiemanne, en hulle word geteiken. RIV en jammer aan sy naasbestaandes.

Cherokee ·

Miskien moet jy ‘n opkikker gebruik. Van diens af het vele van hulle nie kluise om hul vuurwapens in te bêre terwyl dit landswet is. Voorts dink jy as Wille Weste dat hulle hom sou kans gee om te draw en hy die vinnigste sou wees en sodoende sy lewe en vuurwapen beskerm. Dit terwyl die meeste verlore vuurwapens wegraak uit polisiehande en die publiek dmv vuurwapenlisensievereistes daaronder ly. Die vuurwapen behoort aan die publiek en polisie mag dit slegs tydens diens gebruik. Hulle mag natuurlik eie wapens koop vir na-ure gebruik.

Delia ·

Aai @ Wilde Weste, as ‘n polisieman tuis sy vrou skiet, skree almal die wapens moet ingehandig word voor hulle van diens af gaan……nou kla jy omdat hy NIE sy wapen tuis by hom gehad het nie! Presies WAT moet die arme polisie doen om almal tevrede te stel?

Blits ·

Nou vra ek wie het vir Traut gesê dat die mans hom oorval het en sy wapen geeis het? Dalk was dit maar net n rooftog almal weet dat skelms jou dood sal maak net vir 20c

Frikkie Geld en huis ·

Wel, die beampte het ‘n onbekende bedrag kontant by hom gehad. Dalk het die twee daarvan geweet, of dalk was dit al drie se geld.

Cassie ·

Selfs polisiemanne word gereguleer deur artikel 49 van die strafproseswet.Jy mag slegs die nodige geweld gebruik in noodweer.As jy met ‘n mes aangeval word mag jy nie skiet nie.Hoeveel geweldsmisdade word deur misdadigers wat of die wapen koop of afneem by polisielede want hulle mag nie skiet nie.As ‘n misdadiger iemand vermoor en hy hardloop weg mag jy nie skiet nie want dit is nie noodweer nie.Sterkte aan die beampte se familie.Die regte van die krimineel word beskerm

chris ·

kommissaris hoekom ook nie alles in julle vermoe doen om die plaas aanvallers ook te soek nie

Ben ·

As ek ‘n voorstel kan maak. 1) Hoekom los die Polisie nie hulle wapens by die stasie na die dag se skof nie. Hoekom moet dit huis toe gaan?
2) Hoekom kan die Poliese nie hulle uniforms by die kantoor aantrek nie? Dan weet niemand hy is ‘n polisie man nie. 3) Hoekom moet hulle met gemerkte polisie voertuie huis toe en terug ry. Om vir almal te wys jy is ‘n polisie man? Sterkte aan die Polisie maar raak bietjie slimmer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.