Polisiebeampte glo met renosterstropery verbind

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

ʼn 35-jarige polisiebeampte en vyf medepligtiges is in Mpumalanga in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met renosterstropery.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die inhegtenisnemings volg nadat wildbewaarders Maandag in die vroeë oggendure vier mans in die Krugerwildtuin aangekeer het. ʼn .303-jaggeweer, ammunisie en ʼn byl is in hul besit gevind.

“Die mans het aan die wildbewaarders gesê hulle wag vir iemand om hulle te kom oplaai. ʼn Ruk later het hul vervoer opgedaag en die twee insittendes van die voertuig is ook aangekeer. Tydens ondervraging het dit aan die lig gekom dat die bestuurder van die voertuig ʼn sersant, verbonde aan die Lebombo-grenspos naby Komatipoort, is,” het Hlathi gesê.

Die beampte en sy vyf medepligtiges is in hegtenis geneem op aanklag van sameswering om ʼn misdryf te pleeg. Die vier verdagtes wat in die wildtuin aangekeer is, word ook aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, sowel as betreding. Hulle moet binnekort in die Bosbokrand-landdroshof verskyn.

In ʼn afsonderlike voorval is twee vermeende renosterstropers oor die naweek in die wildtuin aangekeer ná ʼn skietgeveg met wildbewaarders.

“Die wilbewaarders was besig met hul daaglikse roetine toe hulle die twee verdagtes opgemerk en genader het. ʼn Skietgeveg het uitgebreek en albei verdagtes is in die proses gewond,” het Hlathi gesê.

Die verdagtes is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling. Die polisie het op twee renosterhorings, ʼn .375-geweer waarvan die reeksnommer afgevyl is, ammunisie en ʼn mes beslag gelê.

Die verdagtes, David Kubhayi (27) en Samson Zwane (22), het Maandag in absentia in die rondgaande hof in Skukuza verskyn. Die saak is tot 29 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jayps ·

Dis wonderlik om sulke nuus te lees! Hoog tyd dat stropers vasgekeer word. Kom ons hoop hul kry hul verdiende loon!

pieter ·

Die polisie is nou meer by misdaad betrokke as by misdaad voorkoming

marous ·

Waarom is SAPU nie teenwoordig om te betoog teen borg nie ….

LV ·

SAPU bestaan nog net op papier,voder net maandelikse fooie in en doen niks vir hul lede.

Rhino-lover ·

Verbaas my glad nie !!
Telke male is dié wat moet beskerm en dien, betrokke by krimineledade

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.