Polisiebeampte in hof oor ‘bedrog’ van R500 000

Morris Lesiba Tshabalala by die hof. Foto: ANA

ʼn Lid van die SAPD se misdaadintelligensie-eenheid het in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn op aanklagte van diefstal en dat hy die polisiediens glo uit meer as R500 000 bedrieg het.

Die borgtogaansoek van Morris Lesiba Tshabalala, ook bekend as Captain KGB, is tot Vrydag uitgestel.

Volgens die klagstaat het Tshabalala in een geval die SAPD bedrieg deur valslik te verklaar dat R470 000 betaal moes word vir blindings en gordyne by ʼn huis van veiligheid. Hy het na bewering R200 000 van dié geld in sy sak gesteek.

Hy staan ook tereg op ʼn aanklag van korrupsie wat verband hou met R50 000 wat aan hom betaal is.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat het 24 uur kans om voor te berei om Tshabalala se borgtogaansoek teen te staan.

Oor Tshabalala se werkstatus het Louw gesê: “Ek glo dit sal beter wees as die polisie kommentaar lewer oor hoe die ondersoek vorder. Ons as die NVG vervolg net, ons doen nie die ondersoek nie en daarom wil ek nie namens hulle praat oor sake wat steeds ondersoek word nie.”

Tshabalala is Dinsdag deur die Valke buite die departement van korrektiewe dienste se hoofkantoor in Pretoria in hegtenis geneem. Hy was daar om met sy paroolbeampte te vergader.

Hy is voorheen in 1994 in hegtenis geneem en in 1996 skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede. Hy is toe tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Nadat hy twee jaar tronkstraf by die maksimum-veiligheidsafdeling van die Groenpunt-gevangenis uitgedien het, is Tshabalala vrygelaat. Hy is weer deur die SAPD in hegtenis geneem nadat hy op parool vrygelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christa ·

dis omrede enigeen ‘n polisieman kan word, korrupte rekort ofte nie. Hoe meer korrup hoe gelukkiger is jy. Daarom het niemand meer respek vir polisiemanne nie. So jammer vir die paar eerlik en opregte manne wat daagliks hulle brood werklik verdien.

Adam ·

Roof met verswarende omstandighede is nie ‘n misdaad wat deur “vakleerling” misdadigers gepleeg word nie. Hoe so’n krimineel weer deur die SAPD aangestel kon word, gaan die verstand te bowe.

Pieter ·

Dit is hoekom die misdaad so styg die polisie is so besig self met misdaad hulle het nie meer tyd om hulle werk te doen nie ….dankie Presedent Trump dat jy die moed het om te sê soos dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.