Polisiebeampte in Limpopo vir vuurwapen doodgeskiet

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 54-jarige polisiebeampte is Sondagoggend in Limpopo doodgeskiet terwyl hy aan diens was.

“Lt. Yezindaba Meshack Shikati en ʼn kollega, konst. Carrol Machaba, het omstreeks 01:40 reageer op ʼn klagte by ʼn kroeg in Ritavi,” het brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. “Hulle was besig om die voorval te ondersoek toe hulle vermoedelik in ʼn lokval gelei is. Twee onbekende mans het in bosse naby die kroeg weggekruip en op die beamptes losgebrand.”

Shikati is noodlottig gewond, maar Machaba is nie in die skietery beseer nie. Die verdagtes het die beamptes se amptelike vuurwapens gesteel en van die toneel gevlug.

Lt.genl. Fanie Masemola, die provinsiale polisiekommissaris, het die voorval streng veroordeel en gesê die polisie sal alles in hul vermoë doen om die verdagtes aan te keer.

Maroela Media het vroeër berig ʼn polisiebeampte van die Wes-Rand is in die oprit na sy huis doodgeskiet. Lt.kol. Knox Chauke (56) is verskeie kere in die bolyf geskiet en is op die toneel dood. Hy het inmekaargesak en is langs sy motor dood. Die voorval het Vrydag in Kagiso buite Krugersdorp plaasgevind. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie en die polisie ondersoek die saak. Lees meer hier.

‘n Wes-Randse polisiebeampte wat vir twee weke vermis was, se liggaam is ook verlede week in ‘n veld in Randfontein gevind is. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.