Polisiebeampte skiet vrou glo per ongeluk

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn Gautengse polisiebeampte is Vrydag in hegtenis geneem nadat hy glo sy vrou in die gesig geskiet het.

Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisiedirektoraat (Opod), het gesê die beampte beweer hy was by sy huis in Florida en wou selfmoord pleeg weens die druk van sy werk en huislike probleme. “Hy het sy dienspistool uitgehaal om homself te skiet. Sy vrou het glo probeer om hom te keer. Sy het probeer om die vuurwapen by hom af te neem toe ʼn skoot per ongeluk afgegaan en haar in die gesig getref het.”

Opod is na die toneel geroep. Die polisiebeampte se vrou is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas.

Volgens Langa word die beampte by die Florida-polisiestasie aangehou op ʼn klag van poging tot moord. “’n Opod-ondersoekbeampte sal die slagoffer in die hospitaal besoek. Afhangende van haar toestand, sal die Opod ʼn verklaring by haar afneem vir verdere ondersoek,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stefaans ·

Ek wens tog iemand wil vir die verslaggewers die begrippe geweer, rewolwer, pistool, patroon en koeël verduidelik.

Sune van Heerden ·

Dagsê Johan

Ons vra om verskoning oor die oorsig. Die berig is gewysig.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Dave ·

Johan, dit is ongelukkig so dat Maroela hul eie beriggewing goedkoop maak deur diè tipe snert te skryf. Ek het meer kere daarop gewys en dan word dit bloot verwyder deur die Maroela personeel (sonder om dit reg te stel). Dit gee ‘n aanduiding van hoeveel die mense wat hul name teken onder ‘joernalis’ by Maroela, werklik weet. Hulle is ‘n verleentheid vir hul self en vir Maroela.

Jan ·

Ek het begrip dat joernaliste nie wapens goed ken nie, en dit is so dat “geweer” soms in die volksmond as ‘n versamelnaam vir vuurwapens gebruik word. Maar as jy nie die verskil tussen ‘n pistool, rewolwer, karabyn, haelgeweer of bloot ‘n geweer ken nie, hou asb. by “vuurwapen”. Maklik en veilig.

sarie van heerden ·

Ek stem saam met Mags wat Maroela bedank vir die gratis nuus en dat hy eerder wil weet wat in die land aangaan as om te kritiseer oor spelfoute, ens. Dankie Maroela, ook van my kant af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.