Polisiebeampte vas ná ‘moordtog’

Argieffoto (Foto: Marcus Trapp/Pixabay)

’n Polisiebeampte (38) van Kabokweni in Mpumalanga is in hegtenis geneem op twee aanklagte van moord en poging tot moord. Die polisiebeampte was nie ten tyde van die vermeende misdrywe aan diens nie.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring die polisiebeampte het Sondagaand by sy vriendin (34) in Pienaar gaan kuier waar hy haar met ’n ander man betrap het.

Volgens Hlathi het ’n woordewisseling tussen hom, die vriendin en die ander man uitgebreek waarna die polisiebeampte na bewering die man met sy dienspistool doodgeskiet het.

“Die polisiebeampte was daarna op ’n moordtog uit en het sy vriendin noodlottig gewond terwyl sy na haar ouerhuis gehardloop het om hulp te ontbied,” sê Hlathi.

Die polisiebeampte het na bewering ook sy vriendin se broer geskiet toe dié in die bakleiery betrokke raak.

Hlathi sê die nooddienste is na die toneel ontbied waar die vriendin en haar minnaar op die toneel dood verklaar is. Die broer is na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling en die polisiebeampte is in hegtenis geneem.

Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Kabokweni-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Mondli Zuma, polisiehoof in Mpumalanga, het die voorval ten sterkste veroordeel.

“Die verdagte is ’n polisiebeampte wat veronderstel is om die veiligheid van gemeenskappe te waarborg en te alle tye die wet moet handhaaf,” het Zuma gesê.

Luidens die verklaring sal daar tugstappe teen die polisiebeampte gedoen word. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal die saak ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.