Polisiebeampte was glo deel van staatsrede-span

EFF-lede word Donderdagaand uit die parlement verwyder. Foto: Jacaranda/Twitter

EFF-lede word Donderdagaand uit die parlement verwyder. Foto: Jacaranda/Twitter

Die Daily Maverick berig dat minstens een polisiebeampte deel was van die groep veiligheidsbeamptes wat EFF-LP’s Donderdagaand tydens die staatsrede uit die Nasionale Vergadering verwyder het.

Kapt. Walter Prins (42), ʼn lid van die openbare orde-polisie, is geïdentifiseer deur ʼn veiligheidskaart wat om sy nek gehang het en gesien kan word in ʼn foto wat deur die European Pressphoto Agency geneem is.

Volgens die veiligheidskaart is “WW Prins” deel van ‘n “hoë risiko”-afdeling en lid van die SAPD. Die foto’s wys hoe Prins by Donderdag se openingseremonie aankom en dan later help om EFF-LP’s uit die Nasionale Vergadering te verwyder.

Die DA se LP’s het Donderdagaand opgestaan en uit die Nasionale Vergadering gestap nadat Baleka Mbete, speaker van die parlement, en Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, nie kon sê of polisiebeamptes betrokke was by die verwydering van EFF-LP’s nie.

DA-LP’s het gesê hulle is gekant teen die gebruik van polisiebeamptes aangesien hulle aan die uitvoerende gesag van die regering verslag doen en dus nie met die funksionering van die parlement moet inmeng nie.

Prins het op 30 Augustus verlede jaar, nege dae nadat EFF-LP’s uit die Nasionale Vergadering verwyder is, op sy Facebook geskryf: “Aan alle lede van POPS Kaapstad (die bietjie meer as 60 wat nog wil) se ek sterkte en dankie vir n helse maand. Veral my peleton se ouens, uithou en aanhou boys. Thanx dat ek altyd op julle kan staatmaak. Ps. Moenie worri nie iewers innie nabye toekoms gan ons weer die Parlement binne vir ou Julius! LoL (sic).”

In September het Prins drie foto’s op Facebook gelaai van polisiebeamptes in die voorportaal van die Nasionale Vergadering. Die foto’s is glo op 21 Augustus geneem.

“Ek kan niks erken of ontken nie,” het Walter aan die Daily Maverick gesê in antwoord op ʼn vraag oor of hy in beheer was van die veiligheidsbeamptes wat die EFF-LP’s verwyder het. “Ons het ʼn eed [van geheimhouding] onderteken. Ek kan niks vir julle sê nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

scalla ·

Eed van geheimhouding afgele, skynbaar verstaan hy dit nie want hy blaker alles op sosiale media uit,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.