Vier polisiebeamptes het Vrydag in die landdroshof in Brits in Noordwes verskyn op aanklagte van korrupsie en diefstal. Die polisiebeamptes is verbonde aan die Brits-polisie se taktiese reaksie-eenheid.
Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het Vrydag in ’n verklaring gesê Sethibogile Gideon Lontshitse (37), David Kabelo Kotu (40), Victor Mogomotsi Hlabane (32) en Mduduzi Aaron Mvelase (39) is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle verlede naweek ’n winkel in ’n informele nedersetting buite Brits deursoek en vermoedelik die eienaar van die winkel besteel het.
Volgens Mokgwabone toon ’n voorlopige ondersoek dat die polisiebeamptes op sigarette in die winkel beslag gelê het voordat hulle die eienaar van die winkel se slaapkamer deursoek het en toe fort is. Die eienaar het kort daarna agtergekom dat kontant en sy selfoon vermis word waarna hy ’n saak by die polisie aanhangig gemaak het.
Die polisiebeamptes is gevolglik in hegtenis geneem. Dit het intussen aan die lig gekom dat die polisiebeamptes glo nooit die sigarette waarop hulle beslag geneem het, as bewysstukke by die polisiestasie ingedien het nie, sê Mokgwabone.
Die polisiebeamptes is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Die verdagtes sal na verwagting weer op 29 Julie in die hof verskyn.
Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris van Noordwes, het intussen sy teleurstelling oor die polisiebeamptes se “onetiese gedrag” uitgespreek. “Die SAPD sal geen genade betoon teenoor sy lede wat by misdaad betrokke is nie.” Kwena het lede aangemoedig om altyd met integriteit op te tree en om die regte ding te doen, selfs wanneer niemand kyk nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Kon mens beter verwag ?
Sulke dinge het ek verwag.
Met die ANC se manier van polisielede aanstel kan ń mens hierdie verwag.
Ek kan aan beter woorde as “onetiese gedrag” dink!!!!
Die uitlatings en stellings wat hoedeman maak oor sy mag begin seker nou n verleentheid raak vir hom.