Polisiebeamptes buit glo verdagtes se dagga

Argieffoto Foto: weedmexico.com

Argieffoto Foto: weedmexico.com

Twee polisiebeamptes het Vrydag in die hof verskyn nadat hulle glo omkoopgeld van ʼn verdagte aanvaar het en boonop die dagga gesteel het waarop hulle beslag gelê het.

Brig. Selvy Mohlahla, woordvoerder van die Mpumalanga-polisie, het gesê konstabels Gladwell Kganyane (37) en Peter Mgwenya (32) het in die Kanyamazane-landdroshof op aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg verskyn.

Kganyane en Mgwenya het gereageer op inligting dat ʼn motor van Swaziland gekom het om dagga by ʼn huis in Pienaar naby Nelspruit af te lewer. Die beamptes het die motor opgespoor en versoek om langs die pad af te trek. Vier vyfliter-houers vol dagga is in die motor gevind. Die vier insittendes is in hegtenis geneem en na die plaaslike polisiestasie geneem.

“Een van die verdagtes het later ʼn klag by die stasie gelê dat hy glo R2 000 omkoopgeld aan die polisiebeamptes betaal het nadat hulle op die dagga beslag gelê het,” het Mohlahla gesê. “Die saak is ondersoek en dit het aan die lig gekom dat die dagga ook nie in die bewysregister aangeteken is nie. Die konstabels is later in ʼn uitkenningsparade uitgewys as die beamptes wat die omkoopgeld aanvaar en op die dagga beslag gelê het.

Kganyane en Mgwenya is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat. Die vier verdagtes wat vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is, sal op 3 September in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

HEVW ·

Geen verlies as hierdie beamptes uit die polisiediens verdwyn nie. Phiyega hoef nie daaroor geskok te wees nie.

Winston ·

Kla hulle ook aan vir die onwettige besit van dagga, bo en behalwe die ander klagtes. Ontslaan summier die lede uit die SAPD uit. Phiyega sal nie geskok wees nie, hoekom?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.