Polisiebeamptes by hof in hegtenis geneem

Argieffoto: SAPD

Twee polisiebeamptes van Noordwes sal vandag in die Brits-landdroshof verskyn nadat hulle Dinsdag by dieselfde hof in hegtenis geneem is.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê die beamptes is deur die polisie se teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem omdat hulle glo omkoopgeld van ʼn huisbraakverdagte geëis het.

Volgens Naidoo het die twee beamptes, ʼn adjudant-offisier en ʼn sersant, onlangs ʼn verdagte op aanklag van huisbraak en diefstal in Letlabile in hegtenis geneem. Die verdagte is by die Letlabile-polisiestasie aangehou in afwagting op sy hofverskyning wat gister sou plaasvind.

Die sersant het egter na bewering die verdagte Dinsdag genader en glo aangebied om hom te help om op “borgtog” vrygelaat te word. “Die sersant het R2 500 by die verdagte geëis en aangevoer R500 is vir die borgtog en R2 000 sal die fasilitering van die borgtog dek,” sê Naidoo.

Nadat die teenkorrupsie-eenheid gekontak is, is ʼn span na die Brits-landdroshof gestuur waar die sersant en nog ʼn beampte in hegtenis geneem is.

“Aanklagte van korrupsie en dwarsboming van die gereg is teen die beamptes aanhangig gemaak. Hulle is tans albei in polisieaanhouding,” sê Naidoo.

Hy het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat met soortgelyke eise deur polisiebeamptes te doen kry om dit by Stop Misdaad by 08600 10111 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eben P ·

Ons moet net ingedagte hou dieselfde mans het met die verkiesing ‘waggehou’ Dis hulle waarop hoedjie cele so trots is

Pieter du plessis ·

Dit is n algemene ding hoekom is die kriminele so arrogant en hoekom skiet misdaad die hoogte in want die polisie is korrup en doen nie hulle werk nie.

marous ·

Dan moet die hof beamptes ook betrokke wees , want die polisie staan nie borg toe nie .

Hennie ·

Die telefoonnommer vir Stop Misdaad sal heel waarskynlik gladnie beantwoord word nie.

Hanna Hoekom ·

Klink my die twee manne is nou geskik vir bevordering. Hoe meer korrup, hoe meer loopbaangeleenthede!

Pieter du plessis ·

Die polisie en Escom is nou in dieselfde posisie albei het dood gegaan en kan nie weer opgewek word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.