Polisiebeamptes gevonnis ná hul verdagte doodmartel

Argieffoto bloot ter illustrasie.(Foto: SAPD)

Twee voormalige Oos-Kaapse polisiebeamptes is tot 20 jaar tronkstraf in die Middledrift-streekhof gevonnis vir die moord op ’n vermeende verdagte meer as sewe jaar gelede.

Bathandwa Kula (20) is in Augustus 2013 met sy aankoms by ’n hospitaal dood verklaar nadat die voormalige konstabels Ntsikayesizwe Dlephu (37) en Masixole Bushula (40) hom gedurende ondervraging met plastieksakke versmoor het tot hy sy bewussyn verloor het.

Dlephu en Bushula is ook drie jaar tronkstraf opgelê vir aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hulle Kula se vermeende makker op dieselfde wyse gemartel het. Simphiwe Sityi het egter oorleef.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê Dlephu en Bushula was destyds verbonde aan die polisiestasie in Alice toe hulle ’n klag van huisbraak ondersoek het.

Die polisiebeamptes het Sityi eerste in hegtenis geneem en in aanhouding ondervra. Sityi is tydens ondervraging deur Dlephu en Bushula met plastieksakke gemartel. Hy het toe vir Kula met die huisbraak verbind en onder verdenking geplaas.

Die polisiebeamptes het Kula by sy huis in Alice gaan haal en na die polisiestasie geneem waar hy op dieselfde wyse gemartel is. Kula het sy bewussyn verloor en is na ’n hospitaal gehaas waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

Sityi het destyds die kantoor waar hy en Kula gemartel is aan Michael Smith, ’n ondersoeker van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), uitgewys.

Dlephu en Bushula is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Albei het gedurende hul verhoor die bewerings teen hulle ontken. Hulle het beweer dat Kula blykbaar epileptiese toevalle gehad het.

Dié weergawe is egter deur getuienis in twyfel getrek en albei beskuldigdes is skuldig bevind aan moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, sê Ngcakani.

Die aanklaer, adv. Deolin Willemse, het aangevoer die regstelsel sou in oneer gebring word indien die beskuldigdes nie ’n gepaste straf opgelê word nie. Hy het ook gesê dat die betrokke saak belangrik is om polisiebeamptes af te skrik van die gebruik van geweld tydens ondervraging.

Die waarnemende direkteur van openbare vervolging, Livingstone Sakata, het die vonnis verwelkom. “Die skuldigbevinding en vonnis toon dat niemand bo die wet verhewe is nie. Daar word van wetstoepassingsagentskappe verwag om binne die grense van die Grondwet en die wette van die republiek op te tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

gatgogga ·

Toe ek die opskrif sien, toe dag ek dit is die nuutste oor die George Floyd saga.

Sambok ·

Ga,as dit wit op swart was sou die herrie los gewees he-8 jaar gevat om te finalisser-patetiese klomp

Jakes ·

Wat dink die BLM beweging nou hiervan? Hoekom lewer die EFF en die ANC nie repliek hieroor nie?

Tanniepetoors ·

Nou waar sou die twee hul ondervragingstegnieke geleer het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.