Polisiebeamptes glo op teregstellingwyse doodgeskiet

Argieffoto: SAPD/Facebook

Twee polisiebeamptes is Sondagaand digby Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, deur verdagtes oorval en doodgeskiet. Hulle was glo nie aan diens tydens die voorval nie.

Makhosaze Mdlangathi (33) en Mfikelwa Mtolo (36), albei sersante, was na bewering in ’n Polo Vivo na Mtolo se huis in die Taylor’s Halt-gebied onderweg toe hulle deur gewapende verdagtes oorval is. Volgens Kwazi Mshengu, waarnemende LUR vir vervoer, gemeenskapsveiligheid en skakeling in KwaZulu-Natal, is ongeveer 30 koeëldoppies op die toneel gevind.

“Die beamptes het verskeie skietwonde opgedoen. Hul vuurwapens was ook weg,” het Mshengu gesê en bygevoeg dat die beamptes op teregstellingswyse doodgeskiet is.

“Die motief vir die moorde is in hierdie stadium nie bekend nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Mdlangathi was by die Plessislaer-polisiestasie in Pietermaritzburg en Mtolo by die plaaslike polisiestasie in Richmond gestasioneer.

Mshengu het die wreedaardige moorde veroordeel en die polisie opdrag gegee om seker te maak die skuldiges word so gou as moontlik vasgetrek.

“Dit is ontstellend om te sien hoe ons beamptes op só ’n wrede en sinnelose manier vermoor is. Ons veroordeel die afskuwelike dubbelmoord op Mdlangathi en Mtolo, wat albei nog jonk was en baie vir die polisiediens kon beteken.”

Hierdie moorde volg ʼn paar dae nadat ʼn polisiebeampte doodgeskiet is terwyl hy ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld probeer beskerm het.

“Dit toon duidelik dat die polisie steeds geteiken word. ’n Aanval op die polisie is ’n direkte aanval op die staat en dit het ernstige gevolge vir die ontplooiing van wetstoepassers omdat die staat baie geld in polisie-opleiding belê.”

Mshengu sê hierdie sinnelose moorde op polisielede sal nie geduld word nie. Hy versoek ook beamptes om hulself te verdedig indien hulle aangeval sou word.

Hy het ook namens die departement sy medelye aan die oorlede beamptes se families betuig.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

Is polisiebeamptes veronderstel/geregtig om hul amptelike vuurwapens by hulle te hê wanneer nie op diens? Dit kan dien as lokmiddel.

Johan ·

Almal moet altyd hul vuurwapens dra, jy ook. Dis oorlog in SA, hoe veg jy sonder n wapen? Hoe beskerm jy jou eiendom en die mense om jou, sonder n vuurwapen? Ons kan die oorlog nie wen met n Polisie wat teen die burgers ontplooi word en sonder ons wapens nie. Gaan kyk bietjie, daar is lande in aktiewe oorlog waar minder mense doodgaan as in SA, ons is werklik in n oorlog, dalk n vreemde een maar n oorlog. Dra jou vuurwapen.

SomeOne ·

hoe kan beamptes hulself verdedig as hule volgens reels nie hul diens wapen mag gebruik as hul van diens af is nie

Casper ·

Enige polisiebeampte mag sy dienspistool gebruik al is hy van diens af solank dit uit noodweer is.Plaasaanvalle is natuurlik nie wreed nie maar dit is nie prioriteit nie en word as gewone misdade hanteer.Sterkte aan die families en kollegas.Mag die skuldiges spoedig vasgetrek word.

Piet parys ·

Dis nie net sinneloos as n polisieman vermoor word ni e maar as enige iemand vermoor word is dit sinneloos

Johan ·

Weermag behoort MOOIT teen burgers ontplooi te word nie…, bewapen Polisie en leer hul om te skiet voor hul geskiet word. Leer hul ook dat burgers aan hul kant is, en moenie hul teen die burgers opstel nie ( Cele, jy vernietig die Polisie se beeld).

Frannie ·

Ek wonder of dit die goeie lede is wat so “uitgehaal” word, Die naweek is een van Norkempark SAPD in Kempton Park se beste en hardwerkendste speurders dood geskiet. Sy pistool is nie eens gevat nie. Sulke goed laat mens wonder.

Misky ·

Mshengu sê baie geld word belê in polisie opleiding…… joh, wys ons asb en ek lanklaas n opgeleide polisieman teegekom

Veronika ·

En wat van die sinnelose moorde op ons boere en plase………

Nico ·

Ek het simpatie met die families, alles sal gedoen word om die skuldiges vas te trek, hoekom doen die SAPD ook nie moeite om plaas moorde te stop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.