
Argieffoto ter illustrasie: SAPD
Twee polisielede, ʼn kaptein en ʼn konstabel, is onder die nege mans wat vroeg Maandag aan die Oos-Rand in verband met die kaping van ʼn vragmotor in Potchefstroom in hegtenis geneem is.
“Gauteng se polisiebestuur was teleurgesteld om te verneem dat die twee polisiebeamptes in volle uniform en in ʼn gemerkte polisievoertuig die vragmotor begelei het nadat dit na bewering gekaap is,” sê kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder.
“Terselfdertyd is die bestuur verheug dat [vermeende] misdadigers in ons geledere geïdentifiseer en in hegtenis geneem is.”
Masondo vertel die polisie was in die vroeë oggendure op roetinepatrollie toe hulle sien hoedat ʼn vragmotor op die N12-snelweg in Benoni aan Gauteng se Oos-Rand begelei word deur drie voertuie, waaronder een van die polisie.
“Die polisie het die stoet fyn dopgehou,” sê Masondo, “en hulle later in Boksburg voorgekeer. Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die vragmotor vol kruideniersware in Potchefstroom in Noordwes gekaap is.”
Al nege verdagtes is in hegtenis geneem en word aangekla van onder meer vragmotorkaping, die besit van ʼn gekaapte voertuig, regsverydeling en die bestuur van ʼn voertuig sonder die eienaar se toestemming.
Masondo sê die nege kom na verwagting Woensdag voor in die Boksburgse landdroshof.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
21 Kommentare
Dankie tog dat daar wel nog eerlike SAP beamtes in die mag oor is?.
Niks verbaas my meer nie….daar’s meer van hulle. Hou so aan, dit is verblydende nuus dat die skurke vasgetrek word.
Die deler is net so goed soos die steler, hoop hul boet vir hul dade.
Ja nee, sekere manne in blou weer eerste op die misdaad toneel.
Dankie waaksame en eerlike polisie manne julle is min gesaai in die huidige SAPD. Stadig maar seker word die onkruid uit geroei. Ek vertrou die twee en hulle makkers word toegesluit vir n lang tyd. Die eerlike polisiemanne moet net asb dop hou dat hulle dossiere nie wegraak nie