Polisiebeamptes help vrou op plaas geboorte skenk

Ao. Heidi Kroutz en die babadogtertjie. (Foto: SAPD)

’n Stasiebevelvoerder van die Oos-Kaap het vandeesweek haar lyf vroedvrou gehou toe daar geen ambulanse beskikbaar was nie en sy self na ’n plaas uitgery het om ’n vrou in nood te help geboorte skenk.

Kol. Sibongile Soci, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê ao. Heidi Kroutz, stasiebevelvoerder van die polisiestasie in Baviaanskloof, het Woensdag omstreeks 01:40 ʼn oproep ontvang oor ʼn swanger vrou, Raymene de Villiers (22), wat op ʼn plaas in die omgewing woon en begin bloei het.

Volgens Soci het Kroutz die ambulansdienste gebel wat haar ingelig het dat hulle geen ambulanse in dié stadium beskikbaar het om De Villiers na ʼn hospitaal te vervoer nie.

Kroutz het omstreeks 03:10 weer ʼn oproep ontvang om haar in kennis te stel dat De Villiers erge kraampyne beleef. Om sake ter vererger, was ʼn ambulans steeds nie beskikbaar om haar na ʼn hospitaal te haas nie.

Ao. Heidi Kroutz en die babadogtertjie. (Foto: SAPD)

Kroutz het toe die Gemeenskapsdienssentrum gevra om solank vervoerreëlings te tref terwyl sy en konst. Goodwill Brandt van die Gemeenskapsdienssentrum hulle na die plaas, sowat 87 km van Willowmore, gehaas het.

Volgens Soci het De Villiers by hul aankoms op die plaas gekrul van die pyn. Kroutz, self ʼn ma, het De Villiers ondersoek en besef dat die ambulans nie betyds gaan opdaag nie en dat hulle self gaan moet hand bysit met die geboorte.

“Wat soos ure gevoel het, was vergete toe die [baba se] gehuil gehoor kon word net toe die paramedici opdaag. Die naelstring was pas gesny,” het Soci vertel.

Ao. Heidi Kroutz, konst. Goodwill Brandt en die babadogtertjie. (Foto: SAPD)

Volgens Soci het Kroutz die pasgebore babadogtertjie skoongemaak en toegedraai voordat sy haar aan die paramedici gegee het wat ma en baba na ʼn hospitaal geneem het. Albei is die volgende dag ontslaan.

“Die optrede van hierdie lede is ʼn ware weerspieëling van altruïsme. Ao. Kroutz en konst. Brandt het hul tyd opgeoffer en nie aan hulself gedink nie, maar eerder die welsyn van ander voor hul eie gestel,” het lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Belinda ·

Wow, baie geluk Heidi jy is beslis ‘n goeie voorbeeld!!!! Mag baie mense hieruit leer!

Daleen ·

Sou ons nie in paradys gelewe het as AL ons polisie hierdie twee se gesindheid gehad het nie. Vir julle twee baie dankie en doen so voort. Oor die paradys kan ons net droom….

Sarel ·

Geluk aan alle partye.
Negatiewe berigte baie snedige kommentaar.
Goeie berig soos die dan rask die Kommentators stil

Leon ·

Dit is ‘n polisie vrou. Sy verdien ‘n Bells. Sy en haar konstabel is ‘n voorbeeld vir die res van die polisiemag. Gee haar ‘n medalje.

Cherokee ·

Die twee vrouens behoort nie slegs komplimente te ontvang vanaf hul werkgewer. Dit behoort promosie werd te wees. Wat hulle gedoen het was nie net vir die moeder nie, maar hulle het ook die polisiediens se naam ‘n hupstoot gegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.