Polisiebeamptes in hof oor ‘omkoopgeld’

hof-hamer

Argieffoto

Twee Kaapse polisiebeamptes wat na bewering geld geëis het om ʼn man wat vir dronkbestuur in hegtenis geneem is, vry te laat, het Donderdag in die hof verskyn.

Mzoxolo Toto (32) en Khululekani Mndlunya (34), albei voorheen verbonde aan die Nyanga-polisiestasie, word aangekla van uitbuiting, korrupsie en aanranding. Hulle het voor landdros Sabrina Sonnenberg in die gespesialiseerde kommersiële misdaadshof in Bellville verskyn.

Harley Cloete, ʼn Legal Aid-prokureur, het aan die hof gesê dat hy albei die beskuldigdes sal verteenwoordig, maar het vir uitstel gevra om met sy kliënte te vergader.

Volgens die klagstaat het Toto en Mndlunya een oggend vroeg in Junie 2013 patrollie gedoen toe hulle ʼn motoris, Sisa Yanta, gestop en beskuldig het van dronkbestuur. Hulle het glo aan Yanta gesê dat hulle hom na die Athlone-polisiestasie gaan neem waar ʼn bloedtoets gedoen sal word. Yanta het gesê hy moet vroeg die oggend by die werk wees.

Hulle het aan Yanta gesê dat hulle “daaroor kan praat” en Yanta het aangeneem dat hulle omkoopgeld wil hê en hulle R50 aangebied. Hulle het die R50 as ʼn belediging gesien en Yanta het aangebied om na sy ouerhuis te ry om meer geld te kry.

Yanta se pa, wat ook ʼn polisiebeampte is, was egter agterdogtig toe sy seun saam met Toto en Mndlunya by die huis opgedaag om geld te kry en het die polisie ontbied. Yanta en sy pa is ook in hegtenis geneem, maar die pa is die volgende dag vrygelaat.

Die saak is uitgestel tot 20 Mei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Daleen ·

Nou wie kan jy dan nou vertrou?! Moet hulle ons nie beskerm nie? Dis septies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.