Polisiebeamptes in hof vir korrupsie, diefstal

hof-hamer

Argieffoto

Vyf lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Woensdag in twee afsonderlike sake in die Stilfontein-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklagte van korrupsie, diefstal, regsverydeling en bedrog.

Vier polisiebeamptes van Klerksdorp se polisie-eenheid vir openbare orde (POPS), ao. Itumeleng Msindo (55), sers. Themba Njephe (46), sers. Lucas Molefe (40) en konst. Thabo Sebotso (39), het glo omkoopgeld van ʼn winkeleienaar geëis en sy sigarette gebuit. Hulle is R1 000 borgtog elk toegestaan en sal na verwagting op 6 Augustus weer in die hof verskyn.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê die vier polisiebeamptes het na bewering Woensdag in twee gemerkte polisievoertuie ʼn voertuig op die Khuma- en Orkney-pad gestop en deursoek. Die persoon wat hulle afgetrek het, besit glo ʼn winkel in Orkney.

Mokgwabone sê die beamptes het onwettige sigarette ter waarde van R80 000 in die voertuig gevind.

“Twee van die beamptes het met die sigarette weggery terwyl die ander twee die winkeleienaar na sy winkel vergesel het. Daar het hulle R20 000 se omkoopgeld van hom geëis,” vertel Mokgwabone.

Hy sê toe die winkeleienaar nie terstond die geld aan die beamptes kon betaal nie, het hulle glo ’n selfoonnommer gelaat sodat hy hulle kan kontak sodra hy die geld kan kry om aan hulle te betaal.

Die saak is by die polisie aangemeld en word deur die polisie se provinsiale teenkorrupsie-eenheid ondersoek.

ʼn 38-jarige man, Thabang Letsaba, wat in die winkeleienaar se voertuig was en na bewering kop in een mus met die polisiebeamptes was, is ook R500 borgtog toegestaan. Hy sal ook na verwagting op 6 Augustus in die hof verskyn.

In ʼn afsonderlike saak het ʼn administratiewe klerk van die Stilfontein-polisie se honde-eenheid Woensdag in die landdroshof op die dorp verskyn op drie aanklagte van bedrog. Die klerk, Ade Pienaar (38), het na bewering ʼn valse voorskrif gebruik om medikasie in die hande te kry.

Sy het na bewering die besonderhede en die briefhoof van ʼn plaaslike dokter gebruik om ʼn voorskrif te vervals om medikasie te bekom. Die apteker wat die voorskrif hanteer het, het onraad vermoed en die dokter en polisie in kennis gestel.

Mokgwabone sê inligting het aan die lig gekom dat Pienaar glo ook in die verlede haarself met vervalste siekbriewe laat afboek het. Sy het elke keer glo ʼn briefhoof van ʼn ander dokter gebruik om vir haarself ʼn siekbrief te maak.

Sy is tot 18 Augustus op waarskuwing vrygelaat. Die polisie se ondersoek gaan voort.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het lede van die SAPD gewaarsku om hul te weerhou van gedrag wat teenstrydig is met die polisie se gedragskode.

Hy het ook die teenkorrupsie-eenheid geloof vir hul harde werk om korrupsie en bedrog te beveg.

“Korrupsie kan nie in die Polisiediens geduld word nie. Enigiemand skuldig aan sulke misdrywe, sal nie ongestraf bly nie,” sê Kwena.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marius ·

Korrupsie is gediend tot in die hoogste vlak van diegene in beheer van die hool . Waarom sal die polisie anders wees ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.